Dagstuk | Dinsdag 21 Januarie 2025

Dagstuk | Maandag 20 Januarie 2025
Dagstuk | Woensdag 22 Januarie 2025

Teksvers: Matteus 7:12-14 “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete. 13“Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. 14Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”

Die teoloog Richard Rohr skryf onlangs ‘n artikel oor groei en verandering en maak die punt dat die woordjie “verandering” normaalweg verwys na ‘n nuwe begin. Maar “transformasie” het die antieke mense verstaan, vind plaas nie as iets nuut begin nie, maar as iets wat oud en bekend is, wegval. Die pyn wat ons ervaar as iets wat bekend is, weg val en die chaos wat daarmee gepaard gaan nooi ons uit om op ‘n dieper vlak te luister na onsself en na God. Dit nooi ons uit en forseer ons soms om na nuwe plekke te gaan omdat die ou plekke weggeval het. Andersins sou baie van ons dalk nooit na nuwe plekke gaan nie. Ek dink baie van ons wat al deur ‘n oorgang was, of ontwrigting en verandering ervaar het, sal dalk hiermee kan identifiseer.

Die antieke mense het verskillende woorde gebruik om hierdie ervaring, hierdie ontwrigting, of chaos te beskryf: vuur, donkerte, dood, leegheid, verwerping en oordeel. Ek dink hoe obns ookal sulke ervaringe beskryf, kan ons saamstem dat dit nie goed voel nie en dat dit defnitief nie soos God voel nie. Ons sal enigiets doen om te keer dat dit wat bekend is, uitmekaar val.  Dit is dan wanneer ons geduld moet hê en die vertroue dat ons beheer kan oorgee.

Dit is dalk waarvan Jesus praat as hy vertel van die poort wat na die lewe lei – dit is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit vind, is min. Ek dink nie dis per toeval dat Jesus die smalpoort as simbool gebruik nie – omdat hy mense geleer het om aan mense te doen dit wat jy wil hê mense moet aan jou doen nie. Ek vermoed Jesus het verstaan hoeveel dit van ‘n mens vra om die behoefte om mense te beheer, te laat vaar en om mense te hanteer soos wat jy graag hanteer wil wees.