15Kyk, al wil Hy my ombring — ek hoop op Hom; ek sal tog my wandel voor sy aangesig bepleit.
Job se verhaal getuig van die kompleksiteit van geloof in uitdagende omstandighede. Dit is ’n verhaal van geloof onder in die vallei. Daar is ’n inherente spanning in hierdie teksvers, wat jy optel wanneer jy verskillende vertalings met mekaar vergelyk. In die 2020 vertaling lees die begin van die vers: “Kyk, Hy kan my doodmaak, maar ek gaan nie wag nie . . . ”. En in die NRSV: “See, he will kill me; I have no hope;” Wag en hoop is dieselfde Hebreeuse woord. Ons kan dus Job se woorde lees as “ek het geen hoop nie” of “nogtans het ek hoop”.
Dit is juis die spanning wat in die hart van “hoop” lê. Hoop is juis hoop wanneer dit voel of daar geen hoop is nie. Psalm 121 nooi ons juis om ons geloof in God se beskerming te bely wanneer ons onder in die vallei is. Job se verklaring, “Al maak Hy my dood, sal ek op Hom hoop,” vang hierdie idee vas.
Dink aan tye in jou lewe wanneer jou geloof getoets is. Hoe het jy hoop behou? As jy tans deur ’n moeilike tyd gaan en self onder in die vallei is, oefen om te sê: “Nogtans sal ek op Hom vertrou.” As dit met jou goed gaan en jy voel of jy bo-op die berg is, sê vir God dankie en gebruik hierdie tyd om jou geloof te versterk vir moeilike tye wat oor jou pad mag kom.
Here, deur lyding bring U my, nader my God by U. Here, in ons beproewings en lyding, mag ons soos Job kan sê, selfs as daar geen hoop is nie, het ek hoop! Help ons om op U goedheid te vertrou, selfs wanneer dinge moeilik is. Mag ons ook sê: “Nogtans sal ons op U vertrou.” Amen.