’n Gebed vir my moedertaal

Die wind van verandering: Vind God in onverwagse plekke

Deur: Ds. Schalk van Wyk

Woorde van die wêreld om ons:

  • Internasionale Moedertaaldag, wat op 21 Februarie gevier word, is deur UNESCO in die lewe geroep. Die besluit is op 17 November 1999 tydens UNESCO se 30ste Algemene Konferensie geneem.
  • Aan die einde van sy boek, Stadier på Livets Vei (Stadiums op die lewenspad) het die Deense filosoof, Søren Kierkegaard, sy liefde vir sy moedertaal verklaar. Uit bladsye 450 – 451 het ek ’n paar grepe geneem, vry vertaal en aanmekaargeryg soos pêrels aan ’n snoertjie:

“Ek voel gelukkig om gebonde te wees aan my moedertaal . . . ; ‘n moedertaal . . . wulps in die oor met sy soet klank; ‘n moedertaal wat nie kreun en steun as hy ‘n moeilike gedagte dra nie . . . ’n taal wat grappe sowel as erns verstaan: ‘n moedertaal wat sy kinders gevange hou met ’n ketting wat lig  is om te dra – ja! maar swaar om te breek.”

ʼn Woord van God tot ons:

  • “Nie ‘n enkele afbrekende woord moet uit julle mond kom nie, maar eerder ‘n woord wat goed is vir noodsaaklike opbou, sodat dit voordeel mag bring vir diegene wat dit hoor.” (Efesiërs 4:29)
  • Lees ook: Johannes 1:1-3; Hebreërs 1:1–2; Jakobus 3:1–12; Jesaja 6:1–8

ʼn Woord tot God:

O sprekende Heer, pratende God!
U het u hart uitgestort deur u Woord
mens te laat word; Woord van u liefde,
genade, genesing, vergifnis, vernuwing –
Woord van ewige troos en lewe vir ons!

Wonderbare God wat die wêreld gemaak,
sterre en planete oor die heelal gestrooi
en toe vir ons met ore aan die kop geskep het –
want U het klankgolwe as draers van u liefde-Woord bedink.
Sal daar ooit genoeg woorde wees om U mee te loof?

Net met ʼn woord het u die fynste senubaantjies geskep,
ʼn brein vol selle van wit en grys misterie wat
in ons skedel die kodes van hamer, aambeeld en stiebeuel
kan ontsyfer, verstaan en onthou
en in weerwoorde wat oor ons tong kom, kan ontvou.

Dankie vir al die musiek wat ons ontroer,
maar veral die musiek van ons moedertaal
waarvan die ritmes en toonhoogtes
reeds voor ons geboorte in ons hart kom woon en
in ons kop en op ons tong kom nesmaak het.

Dankie vir die taal waarmee ons kan bieg en bely;
kan verstaan, vertel en verklaar;
die taal waarmee ons
die liefde vir iemand kan uitspreek
en biddend kan seker maak dat u van ons node weet!

Vergeef tog, o Heer, vergewe
dat ons die wonder van woorde
so maklik en gou tot sloophamers maak,
waarmee ons ander afbreek,
ontmoedig, verneder, seermaak;
waarmee ons eerwraak en weerwraak neem.

Genadige, liefdevolle Here,
raak ons tong, ons lippe, ons taal
aan met ʼn vuurwarm kool van die altaar
sodat ons sprekende gesante
van U, die sprekende God, kan wees.

Amen.

| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss.  Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by swvanwyk@gmail.com.