“Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd. ”
Baie van ons ken hierdie woorde van Jesus. Maar wat ons nie weet nie, is dat Jesus se woorde nie so lekker in Afrikaans in vertaal nie. Vir baie van ons, iewers in ons agterkop, is dissipels maak iets wat ons iewers vêr moet doen en ons dink hierdie opdrag eintlik net vir die mense wat bereid is om te ‘gaan’. Maar wat van al die volgelinge van Jesus wat nie vêr reis nie, maar naby aan die huis bly? Ek het onlangs bewus geword dat die eerste woord “gaan” in die grieks eintlik nie ’n opdrag is nie, maar ’n sterk verlede deelwoord is. As ons dit sou moes vertaal, sou dit iets lees soos: “gaanende” of “reisend”, of selfs “op jou reis”. Ons sou dit dan kon vertaal met: ‘Waar jy op reis is, maak dissipels’. Die opdrag is nie net vir die van ons wat die wêreld vol reis nie, maar ook die van ons naby aan die huis reis, of waar ook al ons gaan. Om in wat ook al ons doen en waar ook al ons reis die naam van Jesus te verkondig.
Mag ons vandag herinner word aan hierdie opdrag om dissipels te maak, waar ook al ons gaan. Met die versekering dat ons nie alleen is op hierdie reis nie, maar dat Jesus ook saam met ons reis, al die dae, tot die voleinding van tyd.
Reis vandag verder met hierdie gedagte:
Wat beteken dit vir jou om op jou reis, waar ook al jy gaan, dissipels te maak van al die nasies?
Here, help ons om u Naam te verkondig, by die huis, in ons dorp, na die uithoeke van die aarde, waar ook al ons gaan. Mag ons in alles wat ons doen en vir almal rondom ons wys dat U leef. Dankie, dat ons weet dat U by ons is, tot die voleinding van die wêreld. Amen.