“Hagar het toe die Naam aangeroep van die Here wat met haar gepraat het: “U is die God wat my sien”. Want sy het gesê: “Het ek Hom wat my sien, ook hier gesien?””
Toe Hagar hierdie woorde uitroep, was sy in die woestyn – nie uit keuse uit nie, maar omdat sy saam met haar pasgebore seun, Ismael, weggejaag is in die woestyn in. Daar in die woestyn, sien God haar raak en ontferm Hy Hom oor haar. ’n Klomp mense is vandag op ’n reis, nie uit keuse uit nie, maar uit noodsaak. Soms word ons pad deur ander of deur ons omstandighede vir ons gekies. Soms lei hierdie gedwonge reis ons in die harde woestyn in, waar daar min hoop is vir oorlewing. Die pad wat ons stap is nie altyd maklik nie. Te midde hiervan, herinner God ons aan sy teenwoordigheid en sy ontferming vir die vlugteling. Hierdie verhaal nooi ons nie net om bewus te word van God se teenwoordigheid wanneer ons in die woestyn beland nie, maar ook om die vlugtelinge rondom ons raak te sien en hulle met deernis en ontferming te hanteer.
Reis vandag verder met hierdie gedagte:
Dink aan ’n keer wat jy gevoel het iemand sien jou raak. Hoe het dit gevoel? Hoe voel dit om te weet dat die Here jou en alles wat in jou hart aangaan, raaksien? Dra vandag ook die vlugtelinge in jou lewe aan die Here op. Dalk is dit iemand spesifiek wat wegvlug uit omstandighede uit hulle lewe, of dalk oor die algemeen mense wat moet vlug van oorloë, mishandeling, geweld of verwerping.
El Roi (“God wat sien”), dankie dat U my nooit vergeet nie, selfs in die woestyn. Ons bid dat U ook almal raaksien wat vlug uit ongesonde omstandighede en ons ook help om hulle raak te sien met deernis en genade. Amen.