Josef het die eersgeborene Manasse genoem, “want,” het hy gesê, “God het my al my swaarkry laat vergeet, en ook my hele familie”. 52 Sy tweede seun het hy Efraim genoem, “want,” het hy gesê, “God het my vrugbaar gemaak in die land van my ellende”.
Nadat Josef die drome van die Farao uitgelê het, is hy aangestel oor die hele Egipte om voor te berei vir die droogte. Daar was niemand, behalwe die Farao, wat belangriker was as Josef nie. Maar steeds was Josef se prioriteit nie om te doen wat die Farao wil nie, of wat hy self wil nie, maar wat God wil.
In hierdie tyd het Josef twee seuns gehad, wie se name iets hiervan getuig. Josef erken die seer van die verlede. Hy weet ook dat die jare van droogte voorlê. Maar hier waar hy nou is, kan hy God se goedheid erken. Dit gee ook betekenis aan die gebrokenheid van sy verlede en hoop vir sy toekoms.
Dink aan jou eie lewe. Waar sal jy kan sê dat God jou laat vergeet het van die swaarkry in jou verlede? Waar kan jy God se goedheid en getrouheid sien?
Waar kan jy sien dat God jou vrugbaar maak, ten spyte van die ellende van die wêreld rondom jou en dalk wat jy self beleef?
Here, ons erken dat ons verlede soms seer was en dat ons nou nog van hierdie seer saam met ons dra. Ons erken dat daar soveel ellende is in die wêreld waarin ons leef. Dankie dat U steeds vir ons goed is te midde hiervan. Dat U ons laat vergeet van die swaarkry van ons verlede en ons vrugbaar maak. Help ons om hierdie vrug van u koninkryk uit te dra in die wêreld in.
Amen