Ons het die tyd van die jaar bereik waar die dae langer voel en die weke korter — waar die kalenders vol is, maar ons energie min. In hierdie seisoen, waar almal haastig probeer klaarmaak, nooi Jesus ons om te stop. Om asem te haal. Om te onthou dat ons nie geskep is om aanhoudend te jaag nie, maar om in God se ritme te leef — ’n ritme van rus en hernuwing.
Hierdie week bou ons voort op verlede week se tema en stap ons stadig deur Jesus se woorde in Matteus 11:28: “ Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee.
Ons word genooi om hierdie woorde stadig te lees. Nie om dit te bestudeer nie, maar om dit te beleef. Elke dag staan ons stil by een woord of frase uit Jesus se uitnodiging — en laat dit by ons in sink soos asem wat rustig in- en uitbeweeg.
Ons begin vandag by die eerste woord: Kom
Jesus se uitnodiging begin eenvoudig: Kom. Nie “maak vinnig!” nie. Nie “bewys jouself.” Nie. Nie “sorteer eers jou lewe uit en dan kan jy kom nie – net: Kom. ’n Sagte, ope uitnodiging. Die beweging van geloof is dikwels nie ’n groot sprong nie, maar ’n klein tree — ’n draai van die hart terug na God toe. Jesaja 55:1 sê: “Kom, almal wat dors is, kom na die water!” Wanneer ons moeg is, voel dit soms of selfs hierdie ‘kom’ te veel is. Of ons voel skuldig dat ons in ons besig wees vêrder van God gedryf het en ons skuldgevoel keer ons dikwels om weer nader aan hom te kom. Maar God is ’n God wat ons innooi, nie verstoot nie. Jesus se stem is sag, nie veeleisend nie. Hy stoot ons nie weg nie, maar nooi ons in. Hy roep ons nader, nie verder weg nie.
Hoe wil jy vandag reageer op Jesus se uitnodiging?
Wat sou dit beteken om vandag net te kom?
Om vir ’n oomblik te stop, jou asem te vang, en net stil te wees voor God?
Here, U roep my om te kom — nie om te hardloop of te presteer nie, om net op te daag. Leer my om hierdie dag stadiger te leef, teenwoordig te wees, en U uitnodiging te aanvaar. Amen.