Week 1 van Advent
Die kers van HOOP
Gister het ons twee pragtige kerssangdienste beleef wat ons opnuut in die verhaal en die dieper betekenis van Kersfees innooi. Met Advent wat nou begin het, steek ons elke Sondag op pad na Kersdag ’n besondere kers aan. Hierdie week staan ons stil by die kers van hoop.
Tema: Die hoop wat in die donker opkom
Skrif: Jesaja 9:1 – “Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien; oor die wat in die donker land was, het ’n lig geskyn.”
In die diep nag van ballingskap en moedeloosheid laat God vir Jesaja sien: ’n lig kom. Nie ’n klein vlammetjie nie, maar ’n groot, oorweldigende lig wat nie gestuit kan word nie. Die volk het gevoel God het hulle vergeet. Hulle het ver van die tempel en ver van wat heilig is gewoon — ver van hoop self. Maar juis dáár, in die donker, begin God weer praat. Hoop word nie gebore waar alles reg lyk nie; hoop word gebore waar niemand meer ’n uitkoms sien nie.
Advent herinner ons dat Kersfees nie met lig begin nie. Dit begin met ’n wêreld wat sug, met mense wat wag, met ’n krip in ’n stal omdat daar nêrens anders plek was nie. Hoop kom nie na die perfekte mense of plekke nie — hoop kom na die donker.
Dink vandag aan jou eie donker ruimtes:
siekte, eensaamheid, finansiële spanning, gebroke verhoudings, of vrese wat jy stil dra. Juis dáár wil God ’n lig laat opkom. Want die Kind wat kom, is nie ’n ver, afstandelike Koning nie — Hy is Immanuël: God-mét-ons, in die dag én in die nag.
Gebed
Here van die nag en van die dag, dankie dat U nie wag tot ons wêreld lig word voordat U kom nie.
Kom vandag in my duisternis in.
Laat my die eerste straaltjie van U koms sien.
Maak my oë oop vir die hoop wat reeds besig is om deur te breek — selfs waar ek dit die minste verwag.
Amen.