Genesis 28:17
“Jakob het wakker geskrik en gesê: ‘Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders as die huis van God nie; dit is die poort van die hemel!’”
Ons teks neem ons na ’n ingrypende moment in Jakob se lewe — ’n moment waarin hy op die vlug is vir die gevolge van sy eie bedrog. Sy naam, Jakob, beteken “hakskeengryper” en verwys na sy geboorte, toe hy aan sy broer Esau se hakskeen vasgehou het in ’n poging om die eersgeboortereg te bekom. Nou, jare later, bevind hy hom alleen, tussen êrens en nêrens, met ’n klip as kopkussing. En juis daar, op die plek van verlatenheid en onsekerheid, kom die Here hom vind in ’n droom.
Wat ons tref, is dat God hom nie straf nie. Inteendeel — God seën hom! Vandag se teks wys vir ons dat die Here ons dikwels juis by dié eerlike momente in die lewe ontmoet, die momente waarin ons niks meer het om voor weg te kruip nie. Sulke oomblikke kan skrikwekkend wees, maar hulle is ook bevrydend. Te midde van chaos word ons, soos Jakob, deur God se genade oorweldig en ontdek ons hoe diep ons onsself soms bedreig en bedrieg.
Hoe is die Here besig om jou — in jou eie “Jakob-momente” — te ontmoet?
Waar bring Hy jou uit by die plek waar die “ware Jakob” in jou gesien, aangespreek en gevorm kan word?
Here ons God,
U wat Jakob geroep het om van ’n bedrieër
’n man van waarheid te word,
kom vorm ook in ons die ware Jakob —
die mens wat U sien,
die mens wat U bedoel het.
Maak ons harte reguit, Here,
sodat ons nie leef uit vrees, manipulasie of selfsug nie,
maar uit eerlikheid, opregtheid en geloof.
Leer ons om te worstel soos Jakob geworstel het —
nie om ons eie wil deur te druk nie,
maar om aan U vas te hou totdat U ons seën.
Breek wat gebreek moet word,
sodat U ons ’n nuwe naam kan gee,
’n nuwe identiteit wat uit genade leef.
Amen.