Deur: Ds. Schalk van Wyk
Wat ek bedoel, broers, is dat die tyd kort geword het. Wie ’n vrou het, moet van nou af so wees asof hulle nie ’n vrou het nie; wie huil, asof hulle nie huil nie; wie bly is, asof hulle nie bly is nie; wie koop, asof hulle nie besit nie; en wie betrokke is by die dinge van die wêreld, asof hulle nie betrokke is nie – want hierdie wêreld in sy huidige vorm is aan die verbygaan. 32 Trouens, ek wil hê julle moet onbesorg leef.
— 1 Korinthiërs 7:29–32a
Ons het weereens ’n geseënde en suksesvolle feesmark agter die rug. Die kerkwerf is nie meer toe onder tentseile nie; dit is afgehandel vir vanjaar — klaar, oor en verby. Maar kom ons dink ’n oomblik na oor hoe dit begin het: waar en wanneer die gedagte aan só ’n mark ontstaan het (ek bedoel nou nog vóór Stellenberg se kerkraad die blink gedagte gekry het)? En dan moet ons ook ’n bietjie wonder oor al die koop en verkopery in die Kerstyd — wat moet ons tog daarvan dink? Die eerste twee vrae (“waar?” en “wanneer?”) is maklik. Die derde een laat ’n mens frons. Dus begin ons by die maklike antwoorde.
Kersmarkte is ’n eeueoue Europese tradisie wat in die laat Middeleeue in die Duitstalige gebiede van Europa — veral Duitsland en Oostenryk — ontstaan het.
Die vroegste vorme was nie Kersmarkte in die moderne sin van die woord nie, maar wintermarkte — Kerstyd is immers wintertyd in Europa. Boere en ambagsmanne is toegelaat om hul produkte aan die begin van die koue maande op ’n spesiale mark te verkoop. Kopers wou ook hul voorrade aanvul voordat die winter regtig begin byt.
Omdat hierdie markdae kort voor Kersfees gehou is, het hulle al hoe meer Kersmark-trekke begin kry, totdat so ’n markdag uiteindelik ’n volwaardige Kersmark geword het. Die Dresden Striezelmarkt, wat vir die eerste keer in 1434 gehou is, word algemeen as die oudste ware Kersmark in die wêreld beskou. (’n Striezel is ’n soort vrugtebrood of -koek — die gewildste lekkerny wat daar verkoop is. Daar was natuurlik ook geskenke en kunshandwerkprodukte, veral speelgoed.)
Oor die eeue heen het hierdie Kersmarkte ontwikkel om nie net begeerlikhede te bied nie, maar om feestelikheid en gemeenskap te bevorder. Vandag is Europese Kersmarkte wêreldbekend vir hul helder ligte, Glühwein en ander tradisies wat die Kersgees by besoekers aanwakker. Ons feesmark het nou nie Glühwein nie — dit is immers te warm hier — maar ons het darem pannekoek.
Só, nou weet ons iets oor die waar en die wanneer. Die belangrikste en moeilikste vraag is: Hoe moet ons oor al die kopery in die Kerstyd dink?
Paulus — die wysste apostel van die Nuwe Testament — het wel nie van Kersmarkte, vrugtekoek of pannekoek geweet nie, maar hy het oor koop (al is dit nie spesifiek in Kerstyd nie) ’n besonder wyse woord gespreek. Koop mag ons koop, gee hy te kenne. Dít, soos trou, huil en lag (hoekom noem hy tog trou en huil in één asem?) is dinge wat ons vryelik mag doen. Dis dikwels dinge wat ons nie eers vooraf beplan nie — ons doen dit net.
Maar die wyse woorde van Paulus is: Moenie jou huwelik, jou trane, jou blydskap of jou besittings té ernstig opneem nie! Hy bedoel nié dat jy ontrou mag wees nie, of dat jy jou besittings moet verwaarloos nie. Hy sê bloot: hierdie dinge moet ’n tweede plek in jou lewe inneem — hulle hoort in die buitekamer van jou lewenshuis. Die drie-enige God moet die hoofslaapkamer kry. As jou huwelik, jou besittings, jou trane of jou lag die hoofslaapkamer kry, slaap jy sleg. Daar is immers net één God wat jou uit die slawehuis uitgelei het (Eksodus 20). Alle ander gode lei jou net terug slawehuis toe. Wanneer die Here die belangrikste is, kry al hierdie dinge hul regte plek en verloor hulle hul dodelike erns.
Die tyd, sê Paulus, is kort. Of die wederkoms eerste gaan wees, en of jy self voor die wederkoms sterf — die tyd is kort. Hy gebruik ’n Griekse woord uit die skeepvaart van daardie tyd: wanneer ’n skip die hawe invaar, die matrose gereedmaak om vas te meer, en die passasiers hul pakkies dek toe dra, was daardie woord op almal se lippe. “Die tyd is kort,” het hulle vir mekaar gesê. “Die tyd is kort,” sê Paulus, “moenie dit mors deur verbete aan goed of mense vas te klou nie.”
Dirkie Smit haal iewers ’n Duitse kortverhaal deur P. Langholf, opsommend aan: Die rykste man in die dorp:
’n Besonder ryk en selfgenoegsame man, verreweg die rykste in die dorp, ry een somersmôre deur die woud. Skielik hoor hy ’n geluid. By nadere luister besef hy dit is ’n baie arm ou man van die dorpie, besig om ’n eenvoudige gebed te bid. Hy dank God vir ’n stuk brood en ’n beker water.
Vir die ryk man is dit só vreemd dat dit hom onrustig maak. Met al sy skatte kom dit nooit by hóm op om God te dank nie.
Intussen het ’n storm opgesteek. Die lug verdonker. Die woud voel dreigend. Toe hoor hy ’n stem wat sê: “Vannag gaan die rykste man in die dorp sterf.”
Verstom en verskrik jaag hy huis toe en ontbied die dokter. Dit word ’n nag van angs en ellende. Met oggendlig voel hy meer gerus. Maar toe hoor hy in die dorp dat ’n man wél in die nag gesterf het — die arm ou man van die vorige dag.
By sy terugkoms huis toe terg sy vrou hom dat hy homself dit net ingebeeld het.
Maar hy antwoord: “Sekerlik leef ek nog — maar die stem was reg. Die rykste man in die dorp hét vannag gesterf.’”
Sy vra: “Hoe kan dit wees? Wie is ryker as ons?”
En hy sê: ” Die man wat vir God kon sê: ‘Buiten U begeer ek niks op aarde nie.’ Hy was die rykste man in ons dorp.”
Miskien verduidelik hierdie slotopmerking presies wat Paulus met “onbesorg leef” bedoel.
Gebed
O Bevrydende God,
U hou nooit op om ons uit die slawehuis uit te lei nie.
U genade wil telkens weer die kettings wat ons bind, kom breek—
ons red van ons verknogtheid aan alles en nog wat.
Ons bely dat ons dikwels besorgd, bekommerd en bang
aan ons kosbaarhede vasklou. Selfs U
dien soms nét as versekeraar teen
die verlies van ons lewensornamente.
Genesende Here, vul ons só met geloof
dat ons harte sonder sorg kan huppel voor U aangesig.
Want aan U behoort die koninkryk
en die krag
en die heerlikheid
tot in ewigheid.
Amen.