Alhoewel die maand van Februarie reeds aangebreek het, is baie van ons se gedagtes nog by hierdie nuwe jaar wat voor ons lê. Iemand het my onlangs daaraan herinner dat elke nuwe jaar ons op ’n manier laat glo dat daar iets beters vir ons kan wees — dat hierdie jaar beter, anders of nuut gaan wees. Ek dink dit sê ook iets van wat daar in elkeen van ons leef: ’n versugting na transformasie en verandering.
Nie almal van ons hou van verandering nie, maar die natuur herinner ons daaraan dat verandering deel is van die lewe. Groei en konstante verandering is ’n teken dat ons lewe nie besig is om dood te gaan nie.
Die vraag is dan seker: Hoe verander ons? Of hoe het ons al verander? Sheila Cussons het iets baie mooi hieroor geskryf. Sy verduidelik dat, te midde van alles wat rondom ons verander, God ’n anker vir ons is, sodat ons kan uitkyk en uitsien na die nuwe dinge wat God oor ons pad bring. Sheila Cussons gebruik die woorde “Sagte Sprong” om die transformasie wat God binne ons bring, te beskryf.
’n Sprong beteken eerstens dat jy van een plek na ’n ander beweeg. Maar tweedens is dit sag. Dit gaan nie daaroor om harder te probeer, meer te bid of meer te glo sodat ek die goeie kan verdien nie. Dit is eerder om te val in die plek waar God my vashou. Ek lees graag haar gedig vir ons:
Die Sagte Sprong
Dit kom wanneer dit nie verwag word nie:
’n aanraking van die verstand
lig soos ’n veer,
vlugtig maar presies
en jy dink as sy ligtheid so is,
so potent dat die aandag nog lank daarna
die indruk behou,
hoe moet sy vasvat wees?
Dit kom wanneer dit nie verwag word nie:
iets wat die bewussyn tot in die lewe tref,
iets soos ’n sagte sprong –
vreugde, verbasing, vreugde, herkenning:
hoe moet U vasvat wees?
— Sheila Cussons