Deur: Ds. Marius Breytenbach
Wanneer gelowiges na God verwys hoor ’n mens dikwels eerder die naam Jesus as die term Christus. Die naam Jesus, voel dikwels vir ons meer persoonlik en nader as die term Christus wat meer teologies of formeel voorkom. Tog dra die belydenis van ons geloof in Jesus Christus of soos in Paulus se geval, Christus Jesus, ‘n besondere getuienis. Toe Petrus in Handelinge met gelowiges oor die gebeure van Jesus se sterwe, opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees gepraat het, het hy gesê: Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak (Hand. 2:36).
In die vroeë kerk was die identiteit van Jesus vir eeue gedebatteer. Die vraag is gevra of Jesus net ’n mens is met ’n besondere roeping, of het God werklik ten volle in menslike vorm verskyn? Het Jesus se wese iewers in die verloop van sy lewe van gestalte verander? Hoe kan die ewige God werklik mens word, sonder om op te hou om God te wees? Die geloofsbelydenis van Nicea het in die jaar 381 na Christus dit so verwoord: Ons glo in een Here, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle eeue, God uit God, Lig uit Lig, ware God uit ware God, verwek, nie gemaak nie, van dieselfde wese as die Vader, deur wie alles gemaak is. Hy het ter wille van ons mense en vir ons verlossing uit die hemel neergedaal. Hy het deur die Heilige Gees vlees geword uit die maagd Maria en mens geword.
Ons het nie hier net met teologiese of akademiese terme te doen nie. Ons geloof in “Jesus” en “Christus” dra in Paastyd ‘n ryk teologiese en praktiese betekenis wat help om die diepte van hierdie seisoen te verstaan. Alhoewel die twee name dikwels uitruilbaar gebruik word, beklemtoon hulle verskillende aspekte van dieselfde Persoon: “Jesus” is die historiese naam van die man van Nasaret. Dit herinner ons aan sy menslikheid—sy lewe, lyding en kruisdood. In Paastyd, veral tydens Goeie Vrydag, staan die naam “Jesus” sentraal omdat dit fokus op sy werklike, liggaamlike lyding en sterwe. Dit is die Jesus wat saam met mense geleef het, wat pyn ervaar het en wat werklik gesterf het. Ná die opstanding, veral in die Paasfeesviering, kry die naam “Christus” (Messias of gesalfde) besondere betekenis. Dit is nie meer net die gekruisigde Jesus nie, maar die opgestane Christus—die oorwinnaar oor sonde en dood. Die beweging van “Jesus” na “Christus” in Paastyd weerspieël dus die oorgang van lyding na oorwinning – van dood na lewe. Vir gelowiges beteken dit ook ’n verskuiwing in identiteit: om nie net die verhaal van Jesus te onthou nie, maar om te leef in die werklikheid van Christus se opstanding. So help die gebruik van hierdie twee name om die volle betekenis van Paasfees te omarm—dat die gekruisigde Jesus inderdaad die lewende Christus is. Dit laat ‘n mens met diep gedagtes oor hoe ons in ons spreektaal oor God in ons hede praat.