Dagstuk | Dinsdag 28 April 2026

Dagstuk | Maandag 27 April 2026
Dagstuk | Woensdag 29 April 2026

Tema: Vrede te midde van vrees
Teks: Johannes 14:27
Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle. Die vrede wat Ek julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moenie bang wees nie.

Ons het die afgelope tyd, met die realiteit van oorlog in die Ooste, bewus geraak van ’n skietstilstand wat poog om tyd te koop om vrede te bewerkstellig. Dié vrede se inhoud is die tydelike afwesigheid van geweld, sodat nasies onder mekaar kan onderhandel. En die aard van hierdie onderhandelinge is nie veel anders as die storie op die slagveld nie. Mense bly vyande, en die oplossing wat gesoek word, is dié wat elke nasie of groep se eie belang bevorder.

Dit is mos nie vrede nie! Al sou daar vandag gesprekke gevoer word wat ’n oorlog tussen Amerika en Iran, Israel en Iran, of Rusland en die Oekraïne beëindig, beteken dit nie noodwendig vrede nie. Dieselfde geld ook vir die konflik waarin ons persoonlik vasgevang sit.

Die vrede waaroor ons teks praat, dring op ander maniere tot ons deur. Dit verkondig nie net ’n skietstilstand nie, maar dring ons oor die grens om te versoen — iets wat ons dikwels nie bereid is om te doen nie. Lees weer wat Paulus in 2 Korintiërs 5 hieroor te sê het:
Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterf het. En Hy het vir almal gesterf, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is” (2 Kor. 5:14–15).

En dan volg ’n belangrike vers (16) wat ons denkwyses relativeer: “Ons beoordeel dus van nou af nie meer volgens menslike maatstaf nie.

Hoekom sal ons dus bang wees as die Here ons in konflik en selfs oorlog bring by die plek waar Hy ons in staat stel om God se vrede te bewerk?

Gebed
Here Jesus, U praat van ’n vrede wat anders is —
nie broos soos die wêreld s’n nie,
nie afhanklik van stilte, ooreenkomste of die afwesigheid van konflik nie.

En tog kyk ons na ’n wêreld vol oorlog en spanning,
na gebroke verhoudings en verdeeldheid,
en ons wonder: Is U vrede werklik moontlik hier?

Here, leer my om U vrede ernstig op te neem —
nie as ’n idee nie, maar as ’n werklikheid wat U bring.
Selfs waar daar chaos is,
selfs waar mense teenoor mekaar staan,
bly U vrede ’n ander soort teenwoordigheid.

Vorm my om ’n draer van daardie vrede te wees —
nie deur konflik te ontken nie,
maar deur anders daarin te staan —
met nederigheid, waarheid en genade.

Laat my nie moed verloor nie,
maar glo dat U vrede werklik ruimte kan maak —
in harte, in gemeenskappe,
en selfs in die donkerste situasies.

Ek ontvang vandag weer U vrede, Here,
en vra dat dit deur my lewe sal vloei
na ’n wêreld wat dit so dringend nodig het.

Amen.