Teks: Galasiërs 6:2
“Dra mekaar se laste, en vervul so die wet van Christus.”
Ons almal dra een of ander las. Party mense dra dit openlik, terwyl ander hulle laste diep binne-in wegsteek.
Soms vra ons: “Hoe gaan dit?” en wanneer die persoon antwoord: “Goed, dankie,” aanvaar ons dit. Maar barmhartigheid leer ons om soms verder te vra:
“Is jy regtig oukei?”
Paulus sê nie dat ons almal se probleme moet oplos nie. Hy sê: “Dra mekaar se laste.”
Dit beteken ek hoef nie jou probleem vir jou op te los nie. Maar ek kan langs jou staan. Ek kan luister. Ek kan bid. Ek kan help waar ek kan. Ek kan jou herinner: “Jy hoef nie alleen hierdeur te gaan nie.”
Die kerk behoort ’n plek te wees waar mense nie hulle laste alleen hoef te dra nie. Ons kan nie altyd iemand se las wegneem nie, maar ons kan weier om hulle dit alleen te laat dra.
Dink vandag aan een persoon wat tans swaarkry. Kontak daardie persoon. Bel hom of haar. Stuur ’n boodskap. Gaan kuier. Bid saam. Dra saam hulle laste.
Here Jesus,
herinner my daaraan dat ek nie net vir myself leef nie.
Maak my bewus van die mense rondom my
wat swaar dra, stil ly en soms net iemand nodig het
om saam met hulle die pad te stap.
Gee my oë om hulle nood raak te sien,
ore om te luister sonder om te oordeel,
’n hart wat meevoel
en hande wat bereid is om te help.
Here, help my om nie te vra:
“Wat het dit met my te doen?”
maar eerder:
“Here, hoe kan ek vandag help om hierdie las ligter te maak?”
Wanneer iemand moed verloor,
laat my ’n woord van hoop bring.
Wanneer iemand alleen voel,
laat my teenwoordig wees.
Wanneer iemand val,
help my om ’n hand uit te steek.
Leer my om ander se laste te dra,
soos U my laste dra.
Laat my lewe ’n weerspieëling van U liefde en barmhartigheid wees.
Amen.