Vroeg die Vrydag oggend het die Sanhedrin ‘n haastige tweede vergadering gehou. Hulle moes vir Pilatus ‘n aanvaarbare klag formuleer en die doodsvonnis kon blykbaar net in die dag gevel word. Die klag word as volg geformuleer: “Ons het bevind dat hierdie man ons volk ophits: hy belet hulle om aan die keiser belasting te betaal en beweer dat hy die Christus, die koning, is.” Al drie was politieke aanklagte wat teen Jesus ingebring word. Jesus wou juis nie ‘n politieke Verlosser wees nie, maar mense van hulle sonde verlos.
Tydens Jesus se verhoor was daar nie een wat vir Hom kom getuig het nie. Nie een van die vele wat Hy genees het, wat Hy verlos het, het opgedaag om die onwaarhede wat oor Hom uitgespreek is, te weerlê nie. Maar interessant dat Judas dit besef het, maar toe dit te laat was. Toe Judas sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy baie spyt gekry oor sy daad. Hy is terug na die familiehoofde en priesterhoofde met die belydenis: “Ek het gesondig. Ek het ‘n onskuldige man verraai. Maar hulle is hom glad nie simpatiek en antwoord hom streng: “Wat het ons daarmee te doen? Dit is jou saak!” Judas het toe die geld in die tempel in gegooi, weggeloop en homself gaan ophang
Jesus word na Pilatus weggelei. Die manne van die Sanhedrin het ongetwyfeld verwag dat Pilatus hulle vonnis sonder meer sou bekragtig. Maar so glad verloop dit nie. Jesus se aanklaers moet buite wag en Hy word na binne geneem om deur Pilatus verhoor te word. Die aanklaers (Jode) kan nie tydens Paastyd in Pilatus se huis ingaan wat ‘n Romein was nie, want daar was moontlik suurdeeg in sy huis, want hulle wou vanaand nog die Paasfees vier en moet dan rein wees. Pilatus ondervra Jesus oor die aanklagte wat die Joodse volk teen Hom het. Pilatus gaan weer na die skare buite en dui aan dat hierdie Man, Jesus, onskuldig is. Maar die Jode bly by hulle aantuigings dat Jesus besig is om die land op te stook en dat Hy verdien om gekruisig te word. Hulle beweer dat Hy van Galilea af al met Sy oproering begin het. Hier sien Pilatus ‘n skuiwergat. Dan is Jesus mos ‘n Galileër en moet Herodes Antipas Hom dus eintlik verhoor.
So skuif die hele vergadering – en al die nuuskieriges wat aangegroei het – na Herodes se tuiste. Hier is Jesus heftig beskuldig, maar Herodes kon geen skuld teen Hom vind en stuur Hom net weer so terug na Pilatus om maar self te besluit wat om met Jesus te doen.!” Pilatus weet hy durf nie Jesus sonder veroordeling laat kruisig nie. Daarom redeneer hy met die priesterhoofde en lede van die Joodse Raad. Julle het hierdie man voor my gebring as ’n opruier van die volk. Nou het ek in julle teenwoordigheid die saak ondersoek, en ek het in hierdie man geen grond gevind vir die aanklag wat julle teen hom inbring nie. 15 Herodes het ook nie, want hy het hom na ons toe teruggestuur. Hy het beslis niks gedoen wat die dood verdien nie. 16 Ek sal hom dus laat gesel en dan loslaat.” Pilatus wou miskien tyd wen en laat Jesus oor om gegesel te word. Geseling was die mees pynlike ervaring denkbaar wat slegs enkelinge met hulle volle bewussyn enduit verduur.
Pilatus besef nou moet Hy ‘n plan maak. ‘n Plan wat moet slaag. Gewoonlik by Paasfees laat hy vir die volk ‘n misdadiger los. Dus laat Pilatus vir Barabbas haal en stel die keuse aan die volk. Wie wil hulle hê moet vrygelaat word. Die volk skree uit een mond: “Barrabbas”. Pilatus vra nog ewe en wat moet hy met Jesus dan doen. Weer laat die volk hulle stemme heftig hoor: “ Kruisig Hom! Kruisig Hom. Pilatus het verskeie kere probeer om Jesus los te laat, maar die volk wou dit nie hê nie. Maar oorverdowend volg dit: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” “Ons het ’n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.” Hulle wou Jesus aan die kruis sien. Ons lees dan in Johannes 19:16 “Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.”
Op die klein heuwel net buite die noordwestelike stadmuur wat weens sy besondere vorm die naam Kopbeenplek (Hebreeus Golgota) word die kruisiging voltrek. Jesus word vasgespyker saam met die ander twee misdadigers asof Hy een van hulle is. Dit was een van die gruwelikste maniere om te sterf. Aan die kruis het die slagoffer gewoonlik gehang voor die oë van elke spottende verbyganger. Onbeskut teen son en koue, ure soms selfs dae lank. Met pyn en koors en ontsteking die dood afgewag.
Die gesprekke rondom die kruis daardie Vrydagoggend was bitter van die omstanders: “Kom van die kruis af as jy die Seun van God is.” Van die Skirfgeleerdes “Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie! Van die soldate: “As jy die Koning van die Jode is, red jouself.” Bitter woorde, bytend van sarkasme, Hatig en oneerbiedig. Was dit nie genoeg dat Jesus gekruisig word nie? Was dit die genoeg dat Hy as misdadiger beskaam word nie. Was die spykers en doringkroon nie genoeg emosionele en vernederende pyn nie? Maar Jesus skree nie terug nie. Ten spyte van die ontsettende pyn, verduur Hy nog die spot ook, maar Sy woorde spreek van liefde. Terwyl Jesus daar hang, spreek “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
Toe Jesus Sy asem uitblaas skeur die swaar voorhangsel van die tempel. ‘n Soldaat erken met eerbied dat : ”Hierdie man was werklik die Seun van God.” En die woorde van Jesaja 53:5 Eggo oor die vlaktes Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom!
Vraag om oor te dink: Jesus het vir alle mense aan die kruis gesterf: Hoe bring dit ons juis nader aan ons vyande?
Here, my hart is stil vandag uit diepe ootmoed vir al U lyding aan die kruis.
Dankie dat jy saam gestap het op die Via Dolorosa. Mag jy ‘n geseende Paasfees hê.