Dagstuk | Donderdag 28 Maart 2024

Dagstuk | Vrydag 29 Maart 2024
Dagstuk | Woensdag 27 Maart 2024

Donderdag VOOR GOEIE VRYDAG

Die dag van die ongesuurde brood en die dag waarop die paaslam geslag moet word, het aangebreek. Op hierdie dag word alle suurdeeg – as beeld van gistende sonde, uit die huise verwyder. ’n Geskikte lam moes gevind geword het en na die voorhof van die tempel geneem word waar dit geslag sou word. Dit is met dit in gedagte, dat daar so baie voorbereidings getref moet word vir die Paasfees, dat die dissipels vir Jesus die Donderdag oggend in Betanië vra: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die Paasmaaltyd te eet?” Jesus stuur vir Petrus en Johannes na Jerusalem waar hulle ‘n man sal kry wat ‘n waterkruik dra wat vir hulle na die vertrek sal lei waar hulle die Paasmaal gereed moet maak.

Die aand vertrek Jesus en die ander 10 dissipels na Jerusalem. Hulle kom almal in die bo vertrek saam waar Jesus vir hulle op ‘n baie spesiale manier wys wat dit beteken om dissipel te wees. Jesus trek self die bokleed uit en doen die werk wat gewoonlik deur ‘n slaaf gedoen word. Hy wat die Koning van die wêreld is, buk af en was die dissipels se voete. En nee Hy doen dit nie om hulle te beskaam nie, maar omdat Jesus hulle innig liefhet. Jesus was die twaalf pare voete een vir een. Selfs die paar voete van die een wie Hom sou verraai. Hieraan wys Jesus vir ons wat dit waarlik beteken om iemand anders lief te hê. Jesus het die slaaf geword wat vir al ons sondes aan die kruis sou sterf.

Dan kom die tweede verbysterende ervaring, toe Jesus na hulle kyk en sê: “Een van julle sal My verraai, die een wat saam met My eet” Onmiddellik wonder elke dissipel wie dit tog kan wees. Hulle elkeen is diep bewus van hul onbetroubare self Dan beantwoord Jesus hulle deur te sê: “Dit is die een van julle twaalf, die een wat saam met My sy hand in die skottel insteek.” Of soos Johannes dit stel: “Dit is die een vir wie Ek ’n stukkie brood wat Ek in die sous ingesteek het, sal gee.” Daarmee wou Jesus nie Judas verraai soos wat hy Jesus oor ‘n paar uur gaan verraai nie. Nee, Jesus wou daardeur net aan Judas te kenne gee dat Hy wat Jesus is presies weet wat Judas beplan. Nadat Jesus dit vir hom gegee het, skryf Johannes het die Satan in Judas ingevaar en daarom die woorde van Jesus aan Judas: “Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!” Woorde wat nie een van die dissipels verstaan het nie. So het Judas sonder dat hy dit geweet het homself daar aan die tafel verraai nog voordat hy Jesus verraai het. Judas verlaat die vertrek, maar net Jesus weet waarom.

Dan volg nog ‘n baie spesiale gebeurtenis. Iets wat tot vandag vir ons betekenis het. Ons lees daarvan in Lukas 22 “Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.” 20 Met die beker na die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.” Die Ou Testament en ou verbond is dus vervul. Die Lam van God gaan nou die offer wees wat betaal vir die mens se sonde. Dit bring die maaltyd in die bovertrek tot ‘n einde. Die uur waarna Jesus so dikwels verwys het tydens Sy gesprekke met die dissipels het aangebreek. Jesus sluit hierdie oomblik met ‘n gebed af. “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. “.

Hulle verlaat die bovertrek en stap deur die Kedronspruit na Getsemane. Dit is op pad na Getsamane waar Jesus ook Petrus vertel dat hy Jesus gaan verloon. Jesus waarsku vir Petrus dat voor die haan kraai sal hy Hom drie keer verloën het. Dit klink vir Petrus absoluut onmoontlik. Hy sal nooit so iets doen nie.

Intussen bereik hulle Getsemane. Dit was ‘n persoon se tuin waarin hy ‘n olyfpers gehad het. Getsemane beteken olyfpers. Hier in die tuin het Jesus baie benoud geword. Nou dat die lydensbeker ure ver weg is, nou dat die gevangeneming op hande is nou spreek Hy Sy hart teenoor Sy dissipels uit: ““Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.”  Hy het ’n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Lukas vertel ons dat op daardie oomblik het Jesus se sweet soos bloed geword.

Hierdie gebed het Jesus drie keer gebid na die derde keer het Hy vir Sy aan die slaap dissipels gesê: “Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.” Terwyl Jesus nog praat kom Judas daar aan met ‘n hele gevolg wat bewapen is met swaarde en stokke. Judas gaan reguit na Jesus en soen Hom om aan te dui dat dit die Persoon is wie sy volgelinge gevange moet neem. Met onbegryplike kalmte stap Jesus na Judas se gevolg en vra hulle wie hulle soek. Hulle antwoord dat hulle Jesus van Nasaret soek en Jesus gee hulle die antwoord dat dit Hy is. Op hierdie oomblik oorval die vrees vir Petrus en hy ruk ‘n swaard uit en kap die oor van die slaaf van die hoëpriester af. Jesus berispe Petrus oor sy impulsiewe daad en wys daarom dat God Hom dadelik sal kan verlos uit hierdie situasie, maar dat die Skrif vervul moet word.

Jesus se dissipels hardloop weg en Jesus word sonder verset weggeneem. Interessant om te weet dat hulle Jesus gevange neem, maar op daardie stadium nog nie ‘n klag teen Hom het nie. Voordat hulle Jesus na Pilatus kan neem moet hulle eers ‘n offisiële klag teen Hom praktiseer. Daarom moes die Sanhedrin nog daardie nag ‘n sitting hou om ‘n geskikte aanklag en die nodige getuienis te soek. Jesus word na Kajafas geneem, die hoëpriester wat Jesus eers na sy skoonpa Annas stuur. Annas ondervra Jesus oor Sy dissipels en Sy leer asof Jesus ‘n ondergrondse beweging op tou gesit het. Annas kan egter nie die situasie na wense hanteer nie en stuur Jesus weer terug na Kajafas.

Die hele Joodse Raad, priesterhoofde, skrifgeleerdes en ouderlinge is daar byeen en hulle probeer baie ernstig om ‘n klag teen Jesus te kry. Uiteindelik kom daar twee vorentoe wat lyk of hulle die situasie kan red. Hulle dui aan dat Jesus gesê het: “Ek kan die tempel van God afbreek en in drie dae weer opbou.” Kajafas was moontlik seker dankbaar dat hier dalk iets is wat as getuienis teen Jesus kan tel. Kajafas vra vir Jesus wat Sy antwoord hierop is. Maar Jesus het niks gesê nie. Was daar ooit ‘n meer welsprekende stilte in die wêreld as hierdie een.

Daar was soveel onreëlmatighede by hierdie verhoor. Daar was so baie dinge wat teen hulle getel het. Hulle vergader onwettig in die nag in die paleis van die hoëpriester. In plaas van in die dag in die tempel. Hulle verhoor die gevangene op die dag van sy gevangeneming, wat nie toelaatbaar was nie. Die getuies wat vir die aangeklaagde moet getuig is nie eers ingeroep nie. Dit was dus inderdaad ‘n valse verhoor sonder enige grond om op te staan, maar Jesus swyg. As Hy sou spreek kon Hy Homself red, maar dan sou die ganse mensdom verlore gaan.

Kajafas probeer ‘n nuwe skuif en vra Jesus: “Is jy die Christus die Seun van God?” Dan praat Jesus die eerste keer tydens hierdie verhoor. “Dit is soos u daar sê” Dit beteken: “Ek is”. Die hoëpriester roep uit dat Jesus God gelaster het en daarom het hulle geen verdere getuies nodig nie. Die oordeel word gevel: “Hy verdien die dood”. Hulle het ‘n aanklag om Jesus na Pilatus te kan neem om die doodstraf oor Hom te fel.

Terwyl die kamstige hofsitting aangaan word Jesus deur een van Sy geliefde dissipels verraai. Drie keer word Petrus gekonfronteer met die vraag of hy Jesus ken en drie keer ontken Petrus dit. Dan hoor Petrus die geluid wat sy hart verskeur. Die haan wat kraai. Terwyl sy Here Leermeester onregverdig verhoor word, het hy ook sy rug op Hom gedraai en Hom verraai.

Vraag om oor te dink: In Jesus se donkerste uur staan Sy vriende/dissipels nie by Hom nie. Hoe kan ons mekaar meer bystaan in die uitdagings van die lewe.

 

GEBED

Here maak my oë oop dat ek kan sien wie my hulp nodig het.

Amen