Dagstsuk | Vrydag 19 April 2024

Dagstuk | Saterdag 20 April 2024
Dagstuk | Woensdag 17 April 2024

Hierdie week, in hierdie Paastyd, reis ons saam met die eerste gemeente in Handelinge.

Handelinge 2:24-47

43Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

Refleksie

Eenvoud en Blydskap

Hulle het hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet.

Ek was al by ’n paar restaurante met baie ingewikkelde items op die spyskaart, helfte van wat ek nie die naam van die gereg of die bestanddele kan uitspreek nie. Daar is iets om te sê vir komplekse maaltye. Maar die maaltye wat regtig by ’n mens bly is die eenvoudige maaltye wat saam met ander gedeel word.

Die twee woorde blydskap en eenvoud het baie te sê vir ons lewe vandag. Ons lewe in ’n wêreld waar ons gebombardeer word met boodskappe op advertensies en in die media en selfs in ons eie gedagtes wat vir ons sê dat ons nie gelukkig genoeg is nie. Dat hierdie of daardie produk ons gelukkig

kan maak, of dat hierdie mense wat op hierdie vakansie gegaan het of hierdie boek gelees het, werklik gelukkig is en ons ook so kan wees. Blydskap voel byna heeltyd uit bereik – en dit is wat die ekonomie dryf. Ons streef ook na meer en meer kompleksiteit, na nog en beter en vinniger en slimmer. Iemand het die opmerking gemaak dat soos wat ons fone al hoe slimmer raak, raak mense dommer. Ek dink ten minste ’n deel van die domheid van die mensdom lê in die feit dat ons sukkel om blydskap in eenvoud te vind.

Vandag is hierdie gedeelte ’n uitnodiging na eenvoud en blydskap. Deel van die sleutel van hierdie blydskap, is dat dit gedeel is saam met mense. Die eerste gemeente het op ’n eenvoudige manier by mekaar se huise bymekaargekom en met blydskap en in eenvoud saam geëet.

Ons word vandag uitgenooi om saam met hierdie vrae te wandel:

Hoe kan jy eenvoudiger leef? Hoe kan jy ligter leef en dalk ook vriendeliker teenoor die aarde?

Hoe kan jy blydskap in eenvoud vind? Wanneer laas het jy opgelet na die klein redes vir blydskap wat oral rondom jou is.

Gee vir jouself vandag die geskenk van blydskap in eenvoud

Gebed

Here, help ons om eenvoudiger te leef. Help ons om blydskap te vind. Mag hierdie blydskap in eenvoud ander vrymaak van die gejaag na wind, soos wat U ons vrymaak daarvan. Mag ons U in blydskap en eenvoud volg.

Amen