Dagstuk | Dinsdag 10 Maart 2026

Maandag 9 Maart 2026
Dagstuk | Woensdag 11 Maart 2026

LEER UIT DIE LEWE (SPREUKE 24:27–34)

Vandag moet ons ’n bietjie verder nadink oor wysheid. Wysheid is nie intelligensie nie. Intelligensie help jou om probleme op te los. Wysheid, daarenteen, help jou om probleme te voorkom.

Ek het in my lewe al heelwat hoogs intelligente mense gesien wat die domste moontlike goed aangevang het. Dink maar aan Elon Musk se Nazi-saluut voor die wêreld se kameras. Hy is – so sê mense – ’n hoogs intelligente man, maar dít was ’n daad van loutere dwaasheid. Wysheid is belangriker as blote intelligensie.

Maar waar kry ’n mens wysheid? Hoe ontwikkel jy wysheid? Wat doen jy om al hoe wyser te raak? Die antwoord op hierdie vrae is eintlik eenvoudig, voor die hand liggend en maklik uitvoerbaar. Ons kry die reseppie in Spreuke 24:27–34.

Let net op: die teks sê nie: “Hier is vir jou die resep vir die aanleer van wysheid” nie. Die teks praat oor die bittere gevolge van luiheid. Maar in die proses kom ons agter hoe Salomo se kop werk. Hier is die teks:

By die land van ’n lui mens
het ek verbygeloop,
en by die wingerd van ’n mens
sonder verstand.

Kyk, dit was heeltemal
toegegroei onder brandnetels;
die grond was oortrek met onkruid,
en sy klipmuur was afgebreek.

Ek het dit bekyk
en ter harte geneem;
ek het dit gesien
en as ’n vermaning aanvaar:

’n Bietjie slaap, ’n bietjie insluimer,
’n bietjie hande vou om te rus;
dan kom, soos ’n rondloper,
jou armoede daar aan,
jou gebrek soos ’n skaamtelose man.

Soos ek gesê het, fokus die teks op die dwaasheid van luiheid. Maar terwyl dit dit doen, sien ons ook duidelik hoe Salomo se kop werk. Salomo kyk, hy sien die verval. Hy neem dit ter harte – met ander woorde, hy dink daaroor na – en leer ’n les daaruit: dit word vir hom ’n vermaning.

Leer uit die foute van mense om jou. En as jy dit nie regkry nie, leer dan uit jou eie foute. Maar in Vadersnaam: leer uit wat gebeur.

Mooi dag vir jou.

Gebed:
Here, help ons om uit die foute wat ons self maak, en uit die foute wat ons ander sien maak, wysheid te leer. Amen.