Eksodus 3:4. God praat …
Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!” En hy antwoord: “Hier is ek”.
Moses was besig om sy skoonpa Jetro se vee in die gebied van die berg Horeb op te pas toe hy die verskynsel van die bos wat brand gewaar en opmerk dat die bos nie uitbrand nie. Dit is hier waar die Here hom ontmoet het en aan hom bekendgemaak het dat Hy hom vir ‘n groot taak roep en as bewys daarvan hom iewers in die toekoms by hierdie berg (Horeb) sal uitbring. Min het Moses geweet wat op hom in die komende jare sou wag en dat hy eendag met vlugtelinge uit Egipte by hierdie selfde berg/plek sal uitkom. Maar sy reis sou nie hier eindig nie en daar was soveel wat Moses self nie kon voorsien het nie. Vandag se teksgedeelte praat met ons oor God wat ons ontmoet, roep en voortdurend in die onbekende in lei. Dit is vir ons onmoontlik om in die toekoms in te sien en te weet wat die lewe vir ons inhou en waar omstandighede ons gaan uitbring. Moses was geroep om die volk tot in die beloofde land in te lei, maar min het hy besef dat hy dit self nooit sou ingaan nie. Moses se lewensverhaal bring ons tot die besef dat dit nooit werklik vir Moses oor ‘n bestemming gegaan het nie, maar oor God wat voortdurend op die reis saam met hulle was. God se teenwoordigheid en leiding is nie soseer iets wat ons soek nie, eerder ’n realiteit wat ons elke dag in ons lewensreis ontvou soos die Here saam met ons reis. Die uitkoms lê dus nie iewers in die onbekende vir ons en wag nie. Die Here breek dit vir ons in hierdie hede oop.
Gebed
Neem, o Here, my vryheid, my gedagtes, my begrip en my wil. Alles wat ek is en alles wat ek het, het u aan my gegee. Ek gee dit alles aan U oor sodat U dit kan gebruik soos wat U wil. Gee my net u liefde en genade – dan is ek ryk genoeg en sal ek niks meer begeer nie. Amen.