Dagstuk | Dinsdag 13 Februarie 2024

Dagstuk | Woensdag 14 Februarie 2024
Dagstuk | Maandag 12 Februarie 2024

Vandag is Dinsdag 13 Februarie en ons word die week ingenooi binne lydenstyd in op pad na die kruis. Die 40-dae-tydperk voor Opstandingsondag is reeds in die jaar 313 n.C. as ’n amptelike viering op die Christelike kalender aangedui. Om dit reg te bereken, moet jy egter die ses Sondae voor Paasnaweek buite rekening laat, want ’n Sondag is nooit as ’n Lydensdag beskou nie, maar as ’n dag van hoop. Daar is klassiek drie spesifieke geloofsgewoontes tydens hierdie 40 dae ingeoefen. Geloofsgewoontes is hulpmiddels om ons te help om die alledaagse weer as heilig te beleef, om ons te help om God raak te sien in alles rondom ons. Geloofsgewoontes word deur herhaling ingeoefen totdat dit gevestig is in ons lewens. Reeds sedert die 4de eeu is die gewoontes van VAS, BID en GEE deur gelowiges ingeoefen tydens hierdie 40 dae van reis na geestelike verdieping.

VAS: Mense gee iets prys tydens Lydenstyd. Die vraag is wat gebeur na die 40 dae? Onthou, hierdie reis is nie ’n oefening in wilskrag of selfdissipline nie, maar ’n reis wat jou wil help om na jou eie toegeklemde hande te kyk wat jou daarvan weerhou om voluit te leef. Voordat jy iets prysgee, moet jy dus weet waaraan jy geheg is.

BID: Onthou ook dat hierdie reis altyd ’n gebedsreis is. Elke tree is ’n gesprek met God. Daar word gevra/gebid: Hoe word ek wat U bedoel het ek moet wees? Waarom weerstaan ek die werk van die Gees in my om Christus-gelykvormig te word?

GEE: Op hierdie reis sal jy agterkom dat jou laste – soms noem ons dit besittings – jou platdruk. Om hiervan vry te kom, moet ons begin om vrygewigheid te beoefen. Dit is egter baie meer as om net van geld of besittings ontslae te raak. Dit vra ook baie meer as jou goedheid. Ons moet leer om onsself prys te gee, want dan sal ons begin verstaan dat “hoop” se ander naam “vryheid” is.

Kom dus saam op hierdie pelgrimsreis, nie te voet nie, maar na binne. Pelgrimsreise het die reisiger nog altyd gedwing om van elke tree bewus te wees. ’n Pelgrimsreis is dus altyd ’n oefening in HIERwees. Met elke tree moet jy jou vrede in die oë kyk, jou slegte gewoontes konfronteer, jou ek-gerigtheid raaksien. Waag dit om saam te reis!

Wag vanaand tot donker en gaan sit dan by jou gebedsplek.

Hoe voel dit om te weet dat Jesus by jou sit en jou waarneem? Hy kyk na jou. Hy voel jou emosies aan. Hy ken jou hart.

Vra vir Hom vir die moed om nou, en vir die reis wat voorlê, in kontak te bly met wat jy voel en dit in gesprek met Hom te bring.

Mooi dag!