Dagstuk | Dinsdag 13 Januarie 2026

Dagstuk | Maandag 12 Januarie 2026
Dagstuk | Woensdag 14 Januarie 2026

TEKS

Psalm 27:2–3
“Wanneer misdadigers op my afstorm om my dood te maak — my teëstanders en my vyande — dan is dit juis húlle wat struikel en val. Al sou ’n leër teen my stelling inneem, sal ek nie bang word nie. Selfs al sou die aanval op my begin, sal ek nog steeds vertroue hê.”

TEMA

Kies geloof bo vrees wanneer teenstand, druk en probleme oorweldigend voel.


BOODSKAP

Die lewe is soms vol uitdagings, probleme en moeilikhede. Ons dink maklik: as ek net hierdie een krisis kan oorleef, sal alles weer reg wees. Maar die lewe werk nie so nie. Wanneer een probleem opgelos is, wag die volgende uitdaging reeds om die draai.

Die psalmdigter het self die pyn en nood van die lewe geken. Paulus het valse aanklagte beleef en lank onskuldig in die tronk gesit. Die konings van die Ou Testament moes groot oorloë en uitputtende bouprojekte trotseer. Die Bybel romantiseer nie die lewe nie — dit vertel eerlik van swaarkry.

Wat Psalm 27 ons leer, is nie dat sterk geloof jou van alle nood sal vrywaar nie. Dit gaan nie oor hoe sterk of swak jou geloof is nie. Dit gaan nie daaroor dat hoe beter jy glo, hoe minder probleme jy sal hê nie. Die psalmdigter sê nie: “Glo net hard genoeg en alles sal regkom,” asof alles afhang van die kwaliteit van jou geloof nie.

Die kern lê elders: dit gaan nie in die eerste plek oor jou geloof nie — dit gaan oor die Een in wie jy glo. Dit gaan oor die Een op wie jy vertrou.

Daarom, wanneer die psalmdigter in nood is, sê hy nie vir homself: “Ek moet net harder glo en sterker vertrou” nie. Nee, hy vlug na God. Hy soek sy veiligheid, sy hoop en sy toekoms in die teenwoordigheid van die Here.

Die Duitse teoloog Paul Althaus het dit só verwoord:

“Ek weet nie of ek glo nie, maar ek weet in Wie ek glo, en Hy sal my nie los nie.”

Mag jy hierdie jaar nie staatmaak op jou geloof nie, maar op die Een in wie jy glo — die Een wat jou vashou, selfs wanneer jy self moeg word.


GEBED

Here, dankie dat ek vandag weer hoor dat uitdagende tye deel is van die lewe, en nie ’n straf omdat ek iets verkeerd gedoen het nie. Dankie dat U altyd teenwoordig is in my lewe en dat U alles ten goede laat meewerk.
Amen.