In hierdie week dink ons na oor die grense van die nuwe jaar – grense wat ons moet oorsteek, uitbrei of trek. Ons nooi jou uit om in hierdie week bewus te word van die grense in jou lewe, soos wat ons hierdie nuwe jaar begin.
14“Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou. Sien af van die gode wat julle voorvaders anderkant die Eufraat en in Egipte gedien het, en dien die Here. 15Of, as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.”
Josua gee ’n toespraak aan die Israeliete aan die grens van die beloofde land. Die Israeliete staan as’t ware tussen twee realiteite – tussen ’n lewe in die woestyn en ’n lewe in die beloofde land. Die afgelope 40 jaar was hulle gefokus daarop om tot op hierdie punt te kom en nou dat hulle uiteindelik hier is, is die vraag, wat nou? Hoe moet ons lewe in die toekoms lyk? Dalk het jy ook in verlede jaar jouself gevang dat sê: “Ek wil net by die einde van die jaar uitkom.” Die vraag is, nou dat 2024 verby is, hoe moet ons in 2025 leef?
Op hierdie belangrike draaipunt gee Josua vir die volk ’n keuse: jy kan jou toekoms óf sonder God leef, óf saam met God leef. As hy oor sy toekoms dink, is die antwoord eenvoudig: wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.
Elke oorgang gee ons die geleentheid om opnuut hierdie keuse te maak. Aan die begin van 2025 is dit vir elkeen van ons ’n geleentheid om vir onsself te vra: hoe kan ek in hierdie jaar, waarmee ook al ek besig gaan wees, die Here dien?
Dalk is dit geleentheid om saam as huis te gesels oor hoe julle as familie die Here kan dien in hierdie jaar?
Dalk is dit vir jou ’n uitnodiging om weer ’n ritme van stiltetyd te vestig, of meer vrygewig of gasvry te wees in die jaar wat voorlê.
Reflekteer vandag oor hierdie vraag: Aan die grens van die Nuwejaar, hoe word ek genooi om die Here te dien in 2025?
Here Jesus, U is die volmaakte voorbeeld van diensbaarheid. U het mens geword om te dien, nie gedien te word nie. U was die voete van die mense rondom U en nooi ons om dieselfde te doen. Here, mag 2025 nie oor myself en my eie voornemens gaan nie, maar mag dit ’n jaar wees waarin ek U dien, ook deur die manier wat ek diensbaar is teenoor ander. Mag ek, soos Josua, in alles wat ek doen, wys dat ek en my huis, die Here dien.
Amen.