TEKS: Psalm 63:8-9 8Want U was vir my tot hulp, en in die skadu van u vlerke jubel ek. 9My diepste wese is aan U verknog; u regterhand ondersteun my.
Psalm 63 is een van die mooiste en intiemste gedigte van Dawid, wat sy diep geestelike verhouding met God openbaar! Die psalm is baie persoonlik en op God alleen gerig. Dawid was in die woestyn en ver van die heiligdom waar hy die teenwoordigheid van God kon tydens die eredienste kon indrink. Hy mis dit nou geweldig, waar hy moes vlug vir Absalom en kon nie meer in die tempel aanbid nie. Sy siel voel binne soos die omstandighede buite hom. Die woestyn is ‘n dor land sonder water, en beeld die geestelike droogte in sy eie siel kragtig uit. Sy siel verlang daarna om die teenwoordigheid van God te ervaar, soos hy gewoond was.
Selfs in sy fisiese omstandighede wil hy die teenwoordigheid en gemeenskap van die Here duidelik beleef. Sy siel is verskeur oor die feit dat sy eie seun sy koningskap bedreig, en dat baie van sy onderdane maar te gretig was om teen hom op te staan. Die onbetroubaarheid van mense naby hom se ondersteuning maak dat hy nog meer na die standvastigheid van God se betroubare liefde verlang. Daarom soek hy, in gesprek met God, die belewenis van ‘n innige verhouding met God, en om sy blydskap in God alleen te vind!
Dawid gebruik sterk, baie intieme woorde. My siel is aan U verkleef. Hy bedoel: Ek hou aan U vas, orals waar U gaan, gaan ek agter U aan. Soos ‘n babadiertjie wat aan sy ma vasklou, en orals saamgaan waar sy ma gaan. So is Dawid verknog aan die Here.
Juis in Lydenstyd wil ons vasklou aan Jesus ons Verlosser. God het al sy majesteit, heerlikheid en krag in een bron geplaas: Christus. Hou jy werlik vas aan God, of steun jy op jou eie kragte? Is jy in jou diepste wese veknog aan die Here?
God hou daarvan dat ons aan Hom vashou as ons Bron van hulp. Hy hou van ‘n hart wat Hom najaag en tot Hom roep. Juis omrede Hy nader aan ons wil wees het Hy Sy eie Seun na die wêreld gestuur vir ons verlossing. Verbind jouself weer opnuut in Lydenstyd om verknog te wees aan die Here. Om aan God vas te hou. Om Hom met jou hele wese te soek.
“Here, U heerlikheid is te groot om dit te laat verbygaan. Ek hou vas aan die hoop wat U vir my gegee het – hoop vir genesing, vir transformasie, vir U teenwoordigheid in my lewe en in my wêreld.”