“God het ons dan nou vrygespreek omdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vas staan.”
Hierdie teks is vir my altyd ingrypend, omdat dit vir ons moeilik is om te glo dat God die skuld en sonde wat ons voortdurend in ons ronddra, net so deur sy genade kan vergewe. Dit is ’n ander soort geloof as die oortuigings wat ons dikwels in ons dra oor straf en vergelding. Alhoewel ons die teologie van God se vryspraak van kleins af ken, en dit Sondae in lofliedere besing, kom ons dikwels nog nie by die vrede en versoening van God se onvoorwaardelike vergifnis uit nie.
Dit is vir ons makliker om ons foute en tekortkominge voor die Here te bely, maar dit bly moeilik om God se vergifnis én die waarheid van sy vryspraak vir onsself te aanvaar. Ons hardloop in die rondte, tel dieselfde pakkie van skuld keer op keer op, en raak byna verslaaf aan die gevoel om te worstel en te bly worstel. Paulus getuig van hierdie selfde probleem in die boek Romeine, en moedig ons aan om die sirkelgang te verbreek deur vas te staan in God se genade.
Wat beteken dit vir jou om vandag werklik te hoor dat daar in Jesus Christus se genade vrede tussen jou en God is?
Hoe raak hierdie vrede jou?
Hoe spoor dit jou aan om te groei en bo die kwessies uit te styg wat in jou verlede lê?
Hoe omskep God se genade jou eie ontevredenheid in sy vrede?
Here ons God,
U Woord sê dat ons, omdat ons deur geloof geregverdig is,
vrede met U het deur ons Here Jesus Christus.
Dankie vir hierdie vrede—
’n vrede wat nie uit ons pogings kom nie,
maar uit U genade wat ons vrymaak.
Help ons om U vergifnis met oop hande te ontvang:
sonder om onsself te veroordeel,
sonder om vas te hou aan skuld en skaamte.
Leer ons om te leef vanuit die waarheid
dat U genade groter is as ons sonde,
en U liefde sterker is as ons vrese.
Dankie vir die vrede wat Christus bring—
’n vrede wat alle verstand te bowe gaan.
Laat ons daarin leef,
elke oomblik, elke dag.
Amen.