Dagstuk | Dinsdag 18 Februarie 2025

Dagstuk | Maandag 17 Februarie 2025
Dagstuk | Woensdag 19 Februarie 2025

Psalm 121:1-3

1’n Pelgrimslied.

Ek kyk op na die berge:

Waar sal my hulp vandaan kom?

2My hulp is van die Here,

wat hemel en aarde gemaak het.

3Hy sal nie toelaat dat jou voet

struikel nie;

jou Beskermer sal nie insluimer nie.

 

Refleksie

Psalm 121 is ’n pelgrimslied wat ons nooi om op reis te gaan. Dit is nie ’n lied wat ons sing wanneer ons veilig en gemaklik is nie, maar ’n lied wat ons sing terwyl ons op pad is en aan die gevare van die wêreld rondom ons blootgestel word. Dit is ’n lied wat jy sing terwyl jy onder in die vallei is en die uitdagende berge rondom jou sien. Die Psalmdigter kyk na die berge en vra waar sy hulp vandaan sal kom.

In jou lewe, wat is die “berge” wat jy in die gesig staar – uitdagings, vrese, of hindernisse? Wat voel vir jou onmoontlik?

Soos die pelgrims wat hierdie lied op hul reis gesing het, is ons ook op ‘n geestelike pelgrimstog. Dink aan hoe God in die verlede jou helper in jou stryd was. Die Psalm verseker ons dat God nooit sluimer, of slaap nie, Hy is altyd by ons, waar ons ook mag gaan. Vandag, elke keer wanneer jy angstig voel, of ’n uitdaging teëkom – groot of klein, kyk bewustelik “na die berge” en bevestig dat jou hulp van die Here kom, Skepper van hemel en aarde.

Soms is dit juis wanneer dinge vir ons onmoontlik voel, dat ons die herinnering nodig het dat die Here saam met ons op pad is en die Een is wat ons beskerm op ons reis.

Gebed

Here, ons kyk op na die berge en sien die uitdagings wat voor ons lê. Maar ons sien ook dat ons hulp van U af kom. Dankie, dat ons op U kan vertrou, wanneer die uitdagings rondom ons oorweldigend voel. Help ons om vas te hou aan U beloftes en gee ons die moed en krag om die reis verder saam met U te stap.

 

Amen.