Dagstuk | Dinsdag 18 November 2025

Dagstuk | Maandag 17 November 2025
Dagstuk | Woensdag 19 November 2025

Hierdie week wandel ons verder met gedagtes uit Kolossense 4:2-6.

Kolossense 4:2:
“Volhard in gebed. Wees waaksaam en dankbaar as julle bid.”

Wees waaksaam en dankbaar. Daar lê ’n interessante ironie in waaksaamheid. Waaksaamheid vra van ons om wakker te wees, maar hoe minder ons slaap, hoe moeiliker word dit om regtig waaksaam te bly. Die gevaar bestaan dat ons fisies wakker is, maar eintlik aan die slaap is. Die ligte kan aan wees, maar niemand is regtig by die huis nie. Baie mense is fisies wakker, maar so uitgeput of vasgevang deur hulle omstandighede dat hulle nie meer opmerk wat in die wêreld rondom hulle gebeur nie.

Waaksaamheid vra dus nie dat ons onsself moet uitput nie, maar dat ons uitgerus en regtig wakker is vir die wêreld rondom ons. Om nie vasgevang te wees deur ons eie omstandighede nie, maar om op te let na die mense en situasies rondom ons.

Daar is ’n teologiese beginsel wat Missio Dei genoem word. Dit beteken basies dat die Here reeds besig is in die wêreld. Ons werk is nie om God se werk te doen nie; Hy doen dit reeds. Ons werk is om waaksaam te wees en op te let waarmee die Here besig is, sodat ons sy medewerkers kan wees in die Koninkryk van God.

Waar of waarmee sien jy dat die Here besig is in die wêreld rondom jou? Hoe kan jy daarin deelneem?

Waaksaamheid gaan hand aan hand met dankbaarheid. Om met dankbaarheid te leef, moet ons opmerksaam wees. Dikwels is daar soveel dinge waarvoor ons dankbaar kan wees, maar ons mis dit omdat ons nie regtig wakker is nie.

’n Eenvoudige gewoonte is ’n dankbaarheidjoernaal of gebed: aan die einde van elke dag, noem of skryf vyf dinge neer waarvoor jy vir die Here dankbaar is. Maak hierdie week ’n gewoonte daarvan; dit kan jou help om meer waaksaam te wees en te sien waarmee die Here in jou lewe besig is.

Gebed
Here, hou ons wakker; gee ons ’n waaksame en dankbare hart, sodat ons U stem kan hoor en volg. Amen.