https://youtu.be/o0QCXXBucbQ
Vandag is Dinsdag 19 Augustus en welkom by hierdie week se oordenkings. Die woord “Sela” in die Bybel, veral in die Psalms, is soos geheimsinnige musieknote wat ons nooi om te stop, asem te haal, en God se teenwoordigheid te ervaar.
Ons gesels vandag oor “Sela” as ’n Verheffing van Lof. Om God se Naam te verhoog! “Sela” ’n Oproep om God te verheerlik en sy Naam te verhef. In Psalm 66:4, gevolg deur “Sela,” lees ons: “Alle mense moet voor U buig, hulle moet sing tot u eer, hulle moet sing tot eer van u Naam. Sela.
Hierdie vers herinner ons dat “Sela”, ’n uitnodiging is om God se grootheid te vier. Deur lofprysing word ons harte opgelig, en ons fokus verskuif van ons omstandighede na God se onveranderlike natuur. In ’n wêreld vol afleiding is “Sela” ’n herinnering om God se lof te verkondig, selfs in uitdagende tye.
Skryf vandag drie dinge neer waarvoor jy God wil prys – groot of klein. Dit kan sy skepping, sy getrouheid, of ’n persoonlike seëning wees. Sing of lees hardop Psalm 66:1-4 as ’n loflied. As jy kan, speel ’n aanbiddingslied wat God se grootheid vier, en neem ’n paar minute om jou hande op te lig in verheffing. Reflekteer daarna met die vraag van hoe lofprysing jou perspektief verander? Deel een van jou lofpunte met iemand anders om God se goedheid te verkondig.
Gebed: Almagtige God, U is waardig om geprys te word. Dankie vir u goedheid en genade wat elke dag nuut is. Help my om U Naam te verhef, selfs wanneer my hart swaar voel. Laat my lofprysing ’n “Sela” oomblik wees wat U eer en my geloof versterk. Amen.