Dagstuk | Dinsdag 2 Desember 2025

Dagstuk | Maandag 1 Desember 2025
Dagstuk | Woensdag 3 Desember 2025

Ons Adventsreis het Sondag begin toe ons twee besonderse kerssangdienste gevier het wat ons in die dieper betekenis van Kersfees innooi. Elke week steek ons ’n nuwe Adventkers aan — en hierdie week staan ons stil by die kers van hoop.

Tema: Die hoop wat wag
Skrif: Psalm 130:5–6 – “Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre.”

Daar is ’n soort wag wat jou leeg laat, maar daar is ook ’n soort wag wat jou dra — wag wat hoop voed. Die digter van Psalm 130 wag nie moedeloos of onbetrokke nie; hy wag met ’n siel wat na God uitgestrek is. Soos die nagwagte wat oor die horison staar, weet hy: die donker hou nie vir altyd nie. Die môre kóm.

Advent is die kerk se groot oefening in hoopvolle wag. Ons wag nie omdat ons onseker is oor die einde van die verhaal nie — ons wag omdat ons weet: Hy kom. Die koms van Jesus is nie ’n vae moontlikheid nie; dit is ’n sekerheid. Maar tussen belofte en vervulling lê daar tyd… en daardie tyd word die skool van hoop.

In ’n wêreld wat kitsoplossings vereis, word wag ’n geestelike dissipline.
Wag op genesing.
Wag op versoening.
Wag op ’n kind.
Wag op ’n nuwe begin.
Wag beteken nie niksdoen nie — dit is aktiewe vertroue dat God reeds aan die werk is, al sien ek nog nie hoe nie.

Gebed
Getroue God, leer my om te wag soos iemand wat weet dat die môre beslis kom. Hou my wakker in die nag van my lewe. Gee my volharding om nie moed op te gee nie, maar om te bly vertrou en bly hoop — want U woord is betroubaar, en U tyd is volmaak. Amen.