Dagstuk | Dinsdag 2 Julie 2024

Dagstuk | Woensdag 20 Maart 2024
Dagstuk | Dinsdag 19 Maart 2024

Goeiedag, vandag is Dinsdag 2 Julie en in hierdie week gaan ons ’n bietjie gesels oor die feit dat ek en jy beide geroep is om as God se kinders te lewe.

Nou wat beteken dit om geroep te wees. Om geroep te wees, beteken dat jy ’n roeping van God ontvang het. Dat God jou gekies het om vir Hom te werk. Vandat ek Teologie begin studeer het, het ek agter gekom dat daar ’n persepsie in die samelewing is dat net dominees deur God geroep is, maar die mooi ding is dat die Bybel ons keer op keer herinner dat God almal roep om vir Hom te werk. Elkeen van ons het van God gawes en talente gekry en dus het ons almal ‘n roeping op aarde gekry om die gawes en talente waarmee God ons geskape het, te gebruik waar ons geplaas is.

Efesiërs 4:1 -2 sê

1Daarom spoor ek julle aan, ek, wat ter wille van die Here ‘n gevangene is, om so te leef dat julle die roeping waarmee julle geroep is, waardig is: 2 deur mekaar met volkome nederigheid en saggeaardheid, en met geduld in liefde te verdra,

Jesus sê hier dat HY ons almal roep, nie net ’n dominee nie, maar elkeen van ons om soos Hy te lewe. Hy roep ons om in Sy voetspore te lewe. HY roep ons om dus genadig teenoor mekaar te wees, om mekaar met dieselfde liefde en respek en genade te hanteer – oral waar ons heen gaan. Dit beteken dat ons daagliks strewe om Jesus se Koninkryk op aarde te vestig .  Die teks nooi ons uit om te besef dat ons mense daagliks met  menswaardigheid, respek en liefde moet hanteer. Dat ons ook ons talente en gawes op so manier moet gebruik dat dit ter eer is van God.  Deur ons roeping uit te leef beteken ook dat ’n mens seker maak dat geen onreg geskied nie en dat jou dade ander mense van die Koninkryk vertel.

 

Gebed:

Here Jesus, dankie vir alles wat U vir ons doen. Dankie dat U vir ons aan die kruis gesterf het en dankie dat U ons geroep het om U verteenwoordigers op aarde te wees. Here help my om ook by my werk U liefde, genade en respek uit te straal en dat ek deur my werk ander sal inspireer om saam met U die koninkryk van God te bou.