Jeremia 24:4. Die aarde sal droog word, uitgedroog, die wêreld sal wegkwyn van droogte; hemel en aarde sal vergaan, want die aarde is verontreinig deur sy inwoners.
Daar is vandag baie uiteenlopende sienings oor die impak van mense op ons omgewing en wat ons reaksie daarop moet wees. Dat die mensdom wel ‘n groot impak op ons omgewing het, is gewis. Drie honderd jaar gelede was hierdie gewaarwording al ‘n werklikheid in ons eie omgewing. Binne ‘n paar dekades nadat die eerste Europeërs hulle in 1652 aan die Kaap gevestig het, was daar vinnig ‘n skaarste aan hout en is ’n verbod op die afsaag van bome en ontbossing geplaas. Die vroegste titelaktes het bepaal dat as jy ‘n boom afkap jy verplig is om een in sy plek te plant. Net so moes die Kompanjie reeds vroeg jaglisensies uitreik om die wild te bewaar. Met net ‘n paar mense en gewere aan die vroeë Kaap het die bewuswording gegroei dat mense die natuur groot skade kan aanrig.
Ons teksgedeelte vat ons meer as 2500 jaar terug in die verlede toe gelowiges ook op ‘n onverantwoordelike manier hulpbronne onder druk geplaas het, deur te veel vir hulleself te verbruik. Dit het ‘n ongelykheid gebring waaroor die profete voor Jeremia al honderde jare vantevore oor gewaarsku het. Toe die inwoners van Jerusalem uiteindelik alles verloor het en in ballingskap na Babel weggevoer is, het hulle in sak en as langs die stad se riviere gesit en huil oor hulle verlies. In Jeremia 29, kry hulle ‘n tweede kans as die Here hulle aanmoedig om van voor tuine aan te lê om so op ‘n eenvoudige manier van die opbrengs te leef wat die aarde oplewer.
Hoe praat hierdie verhale met ons oor die wyse waarop ons vandag saam met ander in die Here se kosbare skepping leef? Wanneer is genoeg, genoeg en hoe praat hierdie gesondheid met ons om bedagsaam voor die Here te leef?
Gebed
Here God, U is die Skepper van hemel en aarde,
en U oë sien die goeie en die regverdige. Ons bely dat ons dikwels die skepping as vanselfsprekend aanvaar, sonder om te onthou dat dit alles U geskenk is.
Leer ons om soos die goeie vye te wees –
vol van U seën, afhanklik van U sorg,
en draers van vrug in die wêreld waarin U ons geplant het.
Help ons om met dankbaarheid in U skepping te leef:
om die aarde te bewerk met respek,
die water en lug te bewaar met sorg,
en ons medemens lief te hê as deel van U groot skeppingsplan.
Mag ons lewens, Here, soos die natuur rondom ons,
U eer en U lof verkondig.
Vorm ons harte, sodat ons U stem herken,
en ons roepings gehoorsaam kan uitleef,
te midde van bome, berge, riviere en mense –
alles wat U hand gemaak het.
Ons bid dit in die Naam van Jesus Christus,
ons Verlosser en Skepper.
Amen.