Johannes 20:19-23
Vandag se teksgedeelte vertel oor Jesus se verskyning aan sy dissipels. Vroeg op ‘n Sondagoggend na Jesus se opstanding was Jesus se dissipels in ‘n vertrek in Jerusalem bymekaar. Hulle het die deure gesluit omdat hulle bang was vir die Jode. Jesus het aan hulle verskyn en gesê:
Vrede vir julle! Soos die Vader my gestuur het, stuur ek Ek julle ook.
Die Paasfeesgebeure het die dissipels heeltemal onkant gevang. Hulle het nooit voorsien dat hulle lewens in so ‘n kort tydjie so drasties sou verander nie. Vir lank het hulle dae daaruit bestaan om Jesus te volg en te sien hoe Hy mense se lewens aanraak en verander. Elke dag het iets opgelewer wat hulle verwonder gelaat het. Maar nou het alles skielik verander. Toe Jesus gevangene geneem is, het hulle gevlug en hulle leef nou in vrees van die Jode wat Jesus se navolgers soek. Te die midde hiervan verskyn Jesus aan hulle en groet hulle met die woorde: Vrede vir julle!
Die vrede waarvan Jesus hier praat is baie anders as die (te)vrede wat ons in ons saamdra en wat te doen het met ons verwagtinge en om van frustrasies ontslae te raak. Dit is die krag van die Here se opstanding wat ons in vasgekeerde omstandighede kom ontmoet en die versekering kom gee dat God groter is as die onsekerheid, angs en spanning wat ons omring. Net soos met die dissipels kom maak dit in druk tye in ons ‘n nuwe roeping los wat lewe gee. Hoe is die Here besig om jou op hierdie manier in druk en vasgekeerde omstandighede te ontmoet? Wat is die nuwe perspektief op die lewe wat die Here in hierdie tyd in jou kom losmaak.
Gebed
Wees stil en weet: Ek is die Heer. Ek spreek, en wind en golwe bedaar. Ek sal ook jou getrou bewaar. Wees stil en weet: Ek is die Heer. Kom bring na My jou kommer en vrees. Ek sal vir jou ‘n toevlug wees. Wees stil en weet: Ek is die Heer.Bly waak en bid; volhard in geloof. Ek is by jou soos Ek beloof.