Dagstuk | Dinsdag 22 Julie 2025

Dagstuk | Maandag 21 Julie 2025
Dagstuk | Woensdag 23 Julie 2025

Ek was bevoorreg om saam met ‘n groep van Stellenberg lidmate die Boesmans te besoek in die Mangettiduin. Hierdie streek lê regs van die Etoshapan en strek tot in die Caprivi strook. Vir jare word daar onder die Boesmans in die streek geestelike werk gedoen. Net ook voor ons verder gaan iets wat ek in die tyd geleer het is dat hulle verkies om as Boesmans aangespreek te word eerder as Khoi-mense. Die paar dae onder die Boesmans was voorwaar ‘n besondere belewenis en ek wil graag die week stil staan by verskillende aspekte wat ek ervaar het terwyl ons daar was. Mag jy dit ook verrykend ervaar.

MARKUS 4:2 (DIE BOODSKAP VERTALING)

‘Jesus het hulle baie dinge van God en sy nuwe wêreld geleer deur vir hulle stories met ’n les in te vertel.

BOODSKAP

Die manier hoe die Evangelie onder die Boesmans oorgedra word, is dmv stories. Hulle het die mooiste stories wat kosbare lewenslesse bevat en deurgetrek word na waarhede in die Bybel. Dit is interessant om te weet dat Jesus ook in stories geleer het. Daar is heelwat stories vir ons in die Bybel opgeteken is.

Soveel kosbare waarhede en lewenslesse is opgesluit in die stories wat vir ons in die Bybel opgeteken is. Jesus se stories is oor verhoudings, met mekaar en met Hom. Verhoudings met die dinge van die wêreld en die dinge waaroor ons wonder. Ons leer God ken deur stories. Ons moet nie net die stories van die Bybel lees nie, ons moet binne daardie stories lewe en hulle moet in ons leef.

Die Bybel is verseker nie ‘n “Eendag lank, lank gelede”, storie of fabel nie, maar ‘n “Aan die begin,”storie van skepping en vasbyt. Jesus se stories is vir die lewe gemaak, die lewe in sy volle glorie van deurmekaar wees, pyn, hartseer en selfs die swaarkry van ons modern lewe. God het ons gemaak as skepsel wie ‘n storie het om te vertel, ‘n storie het om te leef, met pyn, vreugde, opwinding en ten volle mens wees. Die grootste storie wat ooit vertel is, is die storie van Jesus se verlossing. Gaan leef hierdie storie uit in jou wêreld. Dit is die grootste en mooiste storie waarvan ek en jy ook deel is.

GEBED

Die Boesman se Onse Vader

Geskryf deur P.J. van den Heever:

“Onse Vader wat doer êrns ver bo in die bloulug is, diese warm dag wil ikke op myse kniege tot U kom bid: Lat U se koningskap tog by ons kom, en lat U se grootheid hier tissen ons staan gemaak kan worre, en lat U se wil gebeure doer bo by U rond, net so gebeure hier by ons Boesm’land se grond. Gee ons vandag onse tjai-impie kos en vergewe ons, onse sondige gemors, sos ons die ander minse sin vergeef. Here lat die kwaad doen goerterse wye draaie om ons loop en gee tog samblief Here lat die duwel nie naby kom nie. Die minse doen sulke lelike goerters teen my, maar help tog samblief dat ik dit nie sal raak sien nie, dan sal U mos ok nie myne raak sien nie. U is vir altyd en vir altyd. Amen my groot Kroon.”