Dagstuk | Dinsdag 23 Desember 2026

Dagstuk | Maandag 22 Desember 2026
Dagstuk | Woensdag 24 Desember 2025

https://youtu.be/49VZTzCURzQ

1 Korintiërs 13:2

2En al profeteer ek,
en begryp ek alle geheime,
en besit ek alle kennis,
en al het ek al die geloof
om berge te versit,
maar ek het nie liefde nie,
is ek niks!

Waaraan heg die samelewing mense se waarde, of hoe meet ons sukses? Sukses word dikwels gemeet aan rykdom, kennis en mag. Paulus sê al het ek al hierdie dinge en al het ek die geloof om berge mee te versit en ek het nie liefde nie, is ek niks.

Hoe sal ons wêreld anders lyk as ons minder luister na die mense met die meeste rykdom, kennis en mag en eerder luister na die mense wie se lewens getuig van die grootste liefde?

As jy aan die einde van jou lewe kom, wat sal jy wil hê moet mense oor jou sê? Dat jy slim was? Dat jy die geheime van die lewe geken het, dat jy suksesvol was? Selfs dat jy ’n groot geloof gehad het? Of sal jy wil hê mense moet sê dat jy met groot liefde geleef het?

Paulus se laaste woorde in hierdie gedeelte gaan oor identiteit – oor wie jy is. Dit herinner my aan die woorde van Richard Rohr. Wandel vandag verder saam met hierdie gedagte:

“Love is not something you do; love is someone you are. It is your True Self.”

Gebed

Here, mag U ons leer om al hoe minder die mense met die meeste kennis, rykdom en mag na te volg en al hoe meer die weg van liefde te volg, wat vir ons sigbaar word in hierdie Kerstyd, in die geboorte en lewe van Jesus Christus ons heer. Amen.