Dagstuk | Dinsdag 27 Mei 2025

Dagstuk | Maandag 26 Mei 2025
Dagstuk | Woensdag 28 Mei 2025

 

Matteus 11:25-25. Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het.

Jesus het hierdie woorde gespreek nadat hy by verskeie dorpe in Galilea mense ontmoet het en hulle geen reaksie getoon het op sy boodskap aan hulle nie. Dit was by dieselfde geleentheid waar hy die baie bekende woorde gespreek het: “Kom na my toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en ek sal julle rus gee”. Gister het ons gepraat oor hoe die Here ons by ‘n plek uitbring om te bedaar en nie deur ons natuurlike instinkte meegevoer te word nie. Vandag se teks wil ons verder vat om wel op ‘n eenvoudige manier onder die indruk van God se heerskappy te kom.

Ons is van kleins geleer dat God liefdevol, genadig en barmhartig is. Ons kan hierdie kennis met ander deel, maar niks kan vergelyk word met wanneer ons die Here se liefde, genade en barmhartigheid in werklike lewens situasies leer ken nie. Dit is presies wat met mense in ons teksgedeelte gebeur het. Ons word nie vandag gevra om ‘n klomp feite oor God te leer en te memoriseer nie. Ons word wel geroep om ons broosheid te erken, van ons ego’s en self gerigtheid ontslae te raak en die waarheid oor ons hede op ‘n nuwe manier te leer ken. Hoe is die Here tans besig om jou op so ‘n eenvoudige manier te ontmoet?

Gebed

Heilige God, Skepper van alles wat bestaan, U is gedurig besig om die gesig van die wêreld te verander en U vernuwe ons ook voortdurend. Laat daarom die kreatiewe energie in my lewe invloei om dit te transformeer tot ‘n instrument waarmee U u koninkryk hier op aarde kan uitbrei. Dankie dat U vandag nader aan my is as my eie gedagtes. Ek loof U dat U in staat is om so aan my lewe ‘n sin en doel te gee wat alle ander vreugdes waaraan ek kan dink, verreweg oortref. Amen.