Dagstuk | Dinsdag 28 Mei 2024

Dagstuk | Woensdag 29 Mei 2024
Dagstuk | Maandag 27 Mei 2024

Sondag 19 Mei is, was Pinksterfees en met Pinkster het ons gefokus op hoe die Heilige Gees ons harte hervorm om meer soos Christus te wees en te verlang na God se Koninkryk. Hierdie week herbesoek ons die temas van Pinkster.

Matteus 6:19-21

19“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie, daar waar mot en roes verniel, en waar diewe inbreek en steel. 20Maar maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, daar waar mot en roes nie verniel nie, en waar diewe nie inbreek en steel nie. 21Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

Refleksie

In Matteus herinner Jesus ons dat ons almal iets lief het. Ons is nie altyd daarvan bewus nie, maar ons almal gee ons harte vir iets. Ons almal het skatte wat vir ons waardevol is en waarna ons harte verlang. Die probleem is dat ons nie altyd bewus is daarvan nie – ons harte verlang na aardse skatte sonder dat ons dit weet.

Jesus nooi ons om bewus te raak van die skatte in ons lewens.

Reflekteer vir ’n oomblik, wat is vir jou die skatte in jou lewe, waarvan jy dalk nie altyd bewus is nie? Waarna verlang jou hart?

Jesus nooi ons ook na ’n alternatief, om ons harte te gee vir skatte in die hemel, om te verlang na die Koninkryk van God. Dit is wat gebeur wanneer ons sensitief is vir die Heilige Gees se stem in ons lewens. Die Heilige Gees kom ontbloot al die maniere waarop ons leef wat nie in lyn is met God se koninkryk nie en leer ons om te verlang na God se koninkryk.

Wat dink jy is die skatte in die Hemel waarvan Jesus praat?

Wat beteken dit om te verlang na die Koninkryk van God?

Vra die Gees om jou al hoe meer bewus te maak van die water waarin jy swem en om vir jou te wys wat jou vorm in maniere wat nie in lyn is met God se koninkryk nie.

Gebed

Here God, ons gee ons harte so maklik vir ’n klomp dinge sonder dat ons dit besef. Maak ons bewus van wat ons skatte is en waar ons harte is. Leer ons om te verlang na die Koninkryk en die skatte van die Hemel.

Amen.