“Die Here het vir Abram gesê: “Gaan weg uit jou land, weg van jou familie en jou ouerhuis, na die land wat Ek jou sal wys.”
Abraham is geroep om op reis te gaan sonder om te weet wat sy bestemming is. Sy geloof was nie ’n eenmalige besluit nie, maar ’n daaglikse keuse om te vertrou terwyl hy op reis was. Sy reis het hom dikwels in onverwagte plekke en situasies laat beland, wat hy nie kon sien kom nie. Wanneer ons op reis gaan, is dit gewoonlik met ’n eindbestemming in gedagte. Op ons geloofsreis weet ons egter nie presies waar ons gaan op eindig nie, maar ons word genooi om God te vertrou om ons te lei op ons pad, deur onverwagte plekke en situasies, na die beloofde land van God se Koninkryk. Mag ons leer om, soos Abraham saam met God te stap en te vertrou dat Hy ons op ons pad sal lei, selfs al kan ons nie sien waarheen ons op pad is nie.
Reis vandag verder met hierdie gedagte:
Watter eerste tree nooi God jou vandag om te gee? Wat beteken dit vir jou om God te vertrou op die pad waarop Hy jou lei?
Here, gee my die moed van Abraham om te gaan waar U lei, selfs as ek die bestemming nie kan sien nie. Amen.