Dagstuk | Dinsdag 3 Desember 2024

Dagstuk | Maandag 2 Desember 2024
Dagstuk | Woensdag 4 Desember 2024

 

Lukas 1:76-78

En jy, kindjie, ‘n profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uitgaan om sy pad gereed te maak, om kennis van verlossing aan sy volk mee te deel: verlossing deur vergifnis van hulle sondes, danksy die genadige ontferming van ons God.

 

Gister se dagstukkie het met ons gepraat oor die verwagting van Jesus se koms en hoe dit ons verlede, hede en toekoms kom raak. Lukas se teks koppel Jesus se geboorte aan ‘n baie praktiese en eenvoudige boodskap wat Johannes geroep was om te verkondig: God is nooit ver van ons nie. Sy genade en verlossing is iets wat ons elke môre nuut kan beleef. Dat God ons verlos, is nie vir ons vandag ‘n nuwe gedagte nie. Ons lees dit in die Bybel, bely en sing daaroor in die kerk. Tog, bring die boodskap wat Johannes geroep was om te verkondig ons gereeld onverwags by ‘n nuwe plek uit om te vind hoe die Here in ons eie gebrokenheid kom deurbreek om ons by ‘n plek van vrede te bring wat ons genees en ander kom heelmaak. Hierdie verlossing is nooit ver van ons nie.

Gebed

Vergewe ons, Here God, ons opsetlike sondes, en dié van versuim; die sondes van ons jeug, én van ons ryper jare; die sonde van ons gedagtes, van ons liggaam; ons geheime én ons blatante sondes; dié wat ons vooruit bedink en beplan. Vergewe ons, Here, die sonde wat ons doen om onself te bevoordeel, of om ander te plesier; die sondes wat ons onthou, maar ook dié wat ons al vergeet het. Dankie vir hierdie dag, wat sommer hier waar ek hierdie gebed bid, vandag vir my nuut kan wees deur die vergifnis wat ek nou van U ontvang. Amen.