Dagstuk | Dinsdag 30 Desember 2025

Dagstuk | Maandag 29 Desember 2025
Dagstuk | Woensdag 31 Desember 2025

Teksgedeelte: Hebreërs 12:15
“Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.”

Die skrywer herinner ons hoe destruktief opgekropte of onverwerkte emosies kan wees. Daardie onbewuste gevoelens of komplekse wat soms so knaend aan ons psige bly vreet. Van hierdie emosies is bitterheid waarskynlik die mees vernietigende. Dit laat ons nie net negatief, sinies en selfs vyandig na die lewe en ander mense kyk nie – op die lang duur skep dit ook ongesonde spanning in die liggaam, iets wat selfs in ernstige siekte of neerslagtigheid kan omsit.

As gelowiges moet ons waaksaam bly teen die negatiewe effekte van sulke opgekropte emosies. Dit tas nie net ons gesondheid aan nie; dit kan ook ons verhoudings beskadig.

Dit is waarskynlik om hierdie rede dat die skrywer ons oproep om te sorg dat daar geen wortel van verbittering in ons lewe ontstaan nie. Volgens die ou geloofsvaders en -moeders het ons, om dit te bestry, ’n geestelike vertroueling nodig – iemand wat ons kan help om deur ’n oop en eerlike gesprek ons gevoelens te verwoord, sodat ons die oorsprong van ons bitterheid beter kan verstaan en eerlik daarmee kan omgaan.

Só kan ons dit uiteindelik in God se hande plaas, met die vertroue dat Hy dit kan omskep in iets anders – iets mooiers en hoopvols. Soos die bekende digter wat geskryf het:

“Someone I loved once gave me a box full of darkness.
It took me years to understand that this, too, was a gift.”

Amen