17Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom
Julle het seker al almal ’n TV-program gekyk waar mense ’n “complete makeover” kry: ’n nuwe haarstyl, ’n nuwe klerestyl, ’n ander bril. Alles word gedoen om mooier en jonger te lyk. Maar hierdie programme, of metode kan ‘n mens net uiterlik mooier en jonger maak, want geen mens kan iemand anders se innerlike oor maak nie. Miskien het jy ook al hier diep binne jou ‘n behoefte gehad om juis van binne nuut te word. Dit kan net God vir ons doen.
Maar dis nie net dat God die ou, stukkende verlede wegvee en ons ’n nuwe kans gee, ons as ’t ware ’n nuwe blaadjie laat omslaan nie. Nee, Hy maak óns nuut. Hy maak ons oor. Hier staan dit tog: iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe skepping. Christene is anders as ander mense, want, in die woorde van die Here Jesus aan Nikodemus (Joh 3), ons is weer gebore, van Bo gebore, deur God oor geskep deur die werk van die Heilige Gees. In Christus is ons nuwe skeppings, sê Paulus. God het ons nuut geskep, oor gemaak, sodat ons al meer en meer soos Christus kan lyk, soos Christus kan optree en soos Christus kan wees.
Dalk moet dit juis ons begeerte wees vir die nuwe jaar. Om as nuwe mense te leef. Nie net uiterlike nuwe jaarsvoornemens te hê nie. Maar werklik dit ‘n gebed van jou hart te maak dat die Here jou in hierdie nuwe jaar innerlik sal vernuwe en meer na die beeld van Christus te verander.
Here, ek is opgewonde oor ‘n nuwe jaar, en ek wil dit met vrymoedigheid en met vertroue in U ingaan. Help my asseblief om my verwagtinge vir hierdie jaar aan U te oorhandig. Vernuwe my hele lewe namate ek nader aan U kom. AMEN