Ons is tans in koninkrykstyd en besig met ’n reeks tydens ons eredienste: So ook op die aarde. Hierdie week reis ons saam met die verhaal van Rut, wat ons help om te sien hoe God se genade sigbaar word in ons weerloosheid.
16Maar Rut het geantwoord:
“Moet my nie probeer dwing om u te verlaat nie
of om van u af weg te gaan nie,
want waar u gaan, sal ek gaan, en waar u bly, sal ek bly.
U volk is my volk, u God is my God.
Rut se belydenis is een van die mooiste belydenisse in die Bybel. As Moabitiese weduwee het sy elke rede gehad om terug te gaan na haar eie volk en vir Naomi alleen agter te laat. Naomi self het gesê dat Rut eerder aan haarself en haar toekoms moet dink en moet teruggaan huis toe, eerder as wat sy by Naomi bly. In plaas daarvan kies Rut vir ‘n onsekere toekoms in ‘n land waar sy as vreemdeling behandel sal word.
Wat maak hierdie keuse so merkwaardig? Rut verbind haar lot nie net aan Naomi nie, maar aan Naomi se volk en – diepste van alles – aan Naomi se God. Rut se belydenis maak dit duidelik dat sy nie net getrou is wanneer dinge goed gaan nie, maar ook in tye van onsekerheid. Sy kies om nie vir Noami alleen te los in haar weerloosheid nie, maar om saam met haar en haar God, die pad vêrder te stap. Rut bely hierdeur ook dat sy nog hoop het in die toekoms – dat hierdie nie die einde van die pad is nie, maar dat daar vir haar nog ’n pad is saam met Naomi en saam met God, al kan sy nie sien hoe daardie pad gaan lyk nie.
Ek wonder watter verskil het dit vir Naomi in daardie oomblik gemaak dat Rut gekies het om te bly. Ek wil glo dat Rut se teenwoordigheid iets van God se genade tasbaar aan Naomi geïllustreer het. Rut het geen oplossings gehad nie, maar sy was bereid om in haar weerloosheid saam met Naomi te stap. Dalk kan jy dink aan ’n tyd in jou lewe wat jy weerloos was en wat iemand gekies het om jou by te staan? Of dalk kan jy dink aan iemand in jou lewe wat tans weerloos is, wat dalk iemand nodig het om net teenwoordig te wees? Herinner daardie persoon op ’n eenvoudige manier dat jy vandag aan hulle dink en dat jy daar is vir hulle.
Here, gee ons vandag die moed om saam met ander mense in hul weerloosheid te wees. Help ons om op ’n eenvoudige manier, sonder dat ons noodwendig oplossings, of antwoorde het, saam met mense in hul weerloosheid te wees en so U genade tasbaar maak.
Amen.