Dagstuk | Dinsdag 5 November 2024

Dagstuk | Maandag 4 November 2024
Dagstuk | Woensdag 6 November 2024

In hierdie week reis ons saam met tekste uit die verhaal van Jona, wat ons nooi om te vernuwe deur bewus te word van die belaglikheid van ons eie harte.

Jona 1:17

17Toe stuur die Here ‘n groot vis om vir Jona in te sluk, en hy was drie dae en nagte in die vis se maag.

Refleksie

Die meeste van ons ken die verhaal van hoe Jona in die vis op geëindig het, maar ons besef nie altyd die implikasie van hierdie gebeurtenis nie. In die verbeelding van die mense van die ou-Nabye Ooste, was die see die poort na die doderyk, waar die gode nie teenwoordig was nie. Daar is ’n rede hoekom Jona see toe vlug as hy wil wegkom van God af. En dan, wanneer Jona op die boot besef dat God selfs daar teenwoordig is, probeer hy nog verder wegvlug deur af te gaan na die dieptes van die see. Dalk is dit net nog ’n manier waarmee Jona probeer vermy om na Nineve te gaan en boonop nog veroorsaak dat die seevaarders sy dood op hul gewete moet dra. Hy kan nie die boodskap aan Nineve verkondig as hy self afdaal na die doderyk toe nie.

Jona word dan ingesluk deur ’n groot vis, wat jy sou dink verseker sy finale einde sou beteken. Maar in die verhaal van Jona is alles onderstebo en eerder as wat die maag van die vis Jona se graf is, is dit sy redding en word ons bewus van die feit dat selfs in die plekke waar ons dink God nie moontlik teenwoordig kan wees nie, in die dieptes van die waters van die doderyk, selfs daar is God teenwoordig.

Dalk word ons vandag uitgenooi om bewus te raak van ons eie gedagtes oor God se teenwoordigheid? Is daar plekke in ons verbeelding wat ons dink God meer teenwoordig is as ander? Is daar plekke waar ons dink ons kan gaan, waar God nie teenwoordig is nie? Dalk, onbewustelik, dink ons God is meer teenwoordig in omheinde veilige komplekse as in sinkdak woonbuurte?

Of dalk dink ons daar is ’n beperking tot God se genade, dat jy net tot op ’n punt kan wegvlug en daarna kan die Here jou nie meer red nie?

Jona daag hierdie gedagtes binne ons uit en wys vir ons dat daar nêrens is waar ons kan gaan, waar die Here nie reeds is nie en dat ons nooit so vêr kan wegvlug, waar die Here ons nie kan kom haal nie.

Mag dit ons help om anders te kyk na die wêreld en die mense rondom ons.

Ons sluit vandag af met ’n gedeelte van die gebed van Jona, terwyl hy in die vis se maag was:

Gebed

1Toe bid Jona daar binne-in die vis tot die Here sy God. 2Jona het gesê:

“In my nood het ek tot die Here geroep,

en Hy het my gebed verhoor.

Diep in die doderyk het ek hulp gevra,

en U, Here, het my gehoor.

 

Amen