Dagstuk | Dinsdag 7 Mei 2024

Dagstuk | Woensdag 8 Mei 2024
Dagstuk | Maandag 6 Mei 2024

Teks: Johannes 8:12

12Op ’n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

 GEDAGTE

Die meeste van ons hou nie van donkerte nie. Ons sal dadelik die lig aanskakel om te kan sien. Ons sondige lewe word ook vergelyk met duisternis. Daarom het God vir Jesus as Lig gestuur om ons te oortuig van ons skuld en om ons nader aan die lig te trek. Dit is interessant dat die Bybel sommer reg aan die begin vir ons ’n verhaal van lig vertel.

Ons lees alreeds aan die begin by die skepping van lig.  Die aarde was woes en leeg en in donkerte gehul. Geen lewe was moontlik nie. Lig is nodig om te kan lewe. Dan sê God sy eerste woorde: “Laat daar lig wees!” (Gen.1:3). Op hierdie woorde het die algehele donkerte verdwyn en daar was lig. Hier sien ons God as die BRON van lig. By Hom begin lig. Hy besit alle lig. Hy gee lig, sodat alles en almal op die aarde kan lewe.

In die Nuwe Testament lees ons in die begin van die Evangelie wat Johannes geskryf het, die volgende: “In Hom was daar lewe, en die lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie” (Joh.1:4,5). Johannes skryf natuurlik hier van Jesus Christus, God se Seun, ons Verlosser. Johannes het nie oor natuurlike lig geskryf nie. Hy het geestelike lig bedoel. Waarom was geestelike lig nodig? Dit was nodig, want sonde het ongelukkig in die wêreld ingekom. Deur sonde het die donkerte van die dood in ons lewe binne gedring.

GOD, die BRON van alle lig, het sy Seun na die wêreld gestuur. Jesus Christus moes en Hy het die donkerte van sonde verdryf. Hy het ons sonde op Hom geneem en daarmee aan die kruis gesterf. Deur sy dood aan die kruis het Hy die donker mag van sonde oor ons gebreek en Hy het die donker van ons sondeskuld weggeneem. Hy het uit die dood opgestaan en aan ons nuwe lewe, die ewige lewe en die lig gegee

Daarom moet ek ook in die lig lewe. Wat beteken dit vir my as ek die Lig het wat lewe gee? Dit beteken ek is ’n kind van die LIG. Iets van God se lig moet nou deurbreek in my lewe, in my gedagtes, in my besluite en my dade.

GEBED

Here, hoe kan ek U weerkaats as my gesig nie na U gedraai is nie? Hoe laai ek my geestelike batterye sodat ek as ligdraer vir U kan skyn? Ek verstaan dat dit nie my eie krag is wat my lig laat skyn nie. Help my asseblief om ‘n lig vir ander te wees sonder om self in die lig te staan. Laat u lig in my hart skyn om my te verlig deur die kennis en insig van u Woord en die heerlikheid van God. Help my om ‘n verskil te maak in die wêreld, ek wil graag u hoop, lewe en lig in die wêreld uit dra! Ek wil getrou wees aan u opdrag. Amen.