Dagstuk | Dinsdag 9 Desember 2025

Dagstuk | Maandag 8 Desember 2025
Dagstuk | Woensdag 10 Desember 2025

Tema: Leef ek voluit
Bybelteks: 2 Timoteus 4:7 — “Ek het die goeie stryd gestry… ek het die wedloop voltooi…”

GEDAGTE
’n Paar jaar gelede is daar ’n mediese kongres in die VSA gehou waar onder andere die hoër lewensverwagting van die moderne mens bespreek is. Danksy vooruitgang in die mediese wetenskap is ons lewensverwagting vandag aansienlik hoër as ’n paar dekades gelede. Waar die gemiddelde lewensverwagting vroeër sowat 70 jaar was, is dit nou ongeveer 75 jaar. Maar, het een van die sprekers gesê, wat help ’n langer lewe as daar soveel mense is wat nie eens weet wat om met 70 jaar te doen nie? Mense weet nie hoe om 70 jaar sinvol en met vreugde te leef nie. Hulle leef nie meer nie—hulle bestaan bloot.

Miskien vra jy vandag: Is daar dan ’n verskil tussen leef en bestaan? Is dit nie maar dieselfde ding nie? Tog nie. ’n Mens kan bestaan sonder om ooit werklik voluit te leef. Die lewe is ’n kosbare gawe wat aan elkeen van ons geskenk is. Die vraag is: Wat maak jy met hierdie geskenk? As daar een persoon was wat die gawe van lewe ten volle benut het en alles met oorgawe gedoen het, was dit Paulus. Toe hy die kerk vervolg het, het hy dit met oorgawe gedoen. Toe hy die evangelie verkondig het, het hy dit met volle oorgawe gedoen. Paulus het voluit geleef.

As jy terugkyk oor die jaar—hoe het jy geleef? Op moedverloor se vlakte of as iemand met moed? Het jy die jaar voluit geleef en die geskenk van tyd wat God jou gegee het ten volle benut?

Phillips Brooks het gesê:
“Moenie bid vir ’n lewe van gemak nie. Bid om sterker mense te word. Moenie bid vir werk wat gelyk is aan julle kragte nie. Bid vir kragte wat gelyk is aan die eise van julle roeping. Dan sal julle dade nie wonderwerke wees nie, maar julle sal self die wonderwerke wees.”

Mag jy tyd kry om nou tot rus te kom, sodat jy die nuwe jaar met nuwe ywer kan aangryp—en werklik voluit kan leef.

GEBED
Here,
ek is moeg en uitgeput nou dat die jaar tot ’n einde kom.
Gee rus aan my liggaam, kalmte aan my gedagtes
en vrede aan my hart.
Vernuwe my krag,
herinner my dat U my dra,
en lei my sagkens die dae wat kom binne.
Amen.