Dagstuk | Dinsdag 9 September 2025

Dagstuk Maandag 8 September 2025

In hierdie week kyk ons na die klein dingetjies rondom ons. Spreuke 30:24 nooi ons om te kyk na die wêreld rondom ons en die dinge raak te  sien wat klein is, maar wat buitengewone wysheid het.

Spreuke 30:26

Dassies is ‘n gemeenskap wat nie magtig is nie, en tog maak hulle in die rotse hulle blyplek.

Refleksie

Dassies lyk kwesbaar en sonder veel beskerming, maar hulle wysheid lê daarin dat hulle hul skuiling in die rots soek. Hulle weet waar hulle veiligheid lê, en dit is presies dáár waar hulle hul huise bou. Hierdie beeld herinner ons daaraan om ons lewens te bou op die rots wat God is. Wanneer ons self nie sterk is nie, kan ons skuiling vind in die rots wat sterker as ons is.

Soos die dassies, moet ons leer om ons plek van sekuriteit en rus in God te vind. Ook in ons verhouding met die aarde vra dit dat ons wysheid gebruik in waar en hoe ons leef – om plekke van beskerming en balans in die skepping te handhaaf, eerder as om hulpbronne roekeloos te misbruik. Die aarde is vir ons ’n tuiste. As ons die aarde vernietig, vernietig ons ons eie huis.

Spreuke nooi ons vandag om raak te sien dat dassies wysheid het in die manier wat hulle die hulpbronne in die skepping benut. In die stap gemeenskap is daar ’n gesegde: Vat net herinneringe en los net voetspore. Dit is ’n herinnering om jou impak op die omgewing so min as moontlik te maak. Die mensdom vandag het ’n baie diep voetspoor en laat veel meer agter as net voetspore. Die plastiek wat ons een keer gebruik, gaan jou eie lewe met honderde jare uit oorleef en agter gelos word lank na jy weer stof geword het.

Hoe kan jy vandag ’n bewuste keuse maak om jou lewe op God se rots te bou, én terselfdertyd maniere vind om die skepping se hulpbronne met wysheid te benut en te beskerm.

Gebed

Here, U is ons rots en ons skuiling. Leer ons om ons lewens stewig op U te bou en wysheid te gebruik in hoe ons leef. Gee ons die moed om ook die skepping se skuilplekke te beskerm. Amen.