Dagstuk | Donderdag 11 Desember 2025

Dagstuk | Woensdag 10 Desember 2025
Dagstuk | Vrydag 12 Desember 2025

TEMA: Goddelike rus
TEKSVERS: Psalm 23:2 — “Hy laat my rus in groen weivelde; Hy bring my by waters waar daar vrede is.”

GEDAGTE
Namate die einde van die jaar naderkom, voel dit dikwels asof ’n mens jouself in ’n stroomversnelling bevind. Dié wat beplan om met vakansie te gaan, moet tientalle reëlings tref: Is die diere versorg? Sal iemand die plante natmaak? Is die huis veilig genoeg, en hopelik hou die krag. Is die motor padwaardig, wanneer vertrek ons, en wat moet nog afgehandel word?

Mens wonder soms of dit nie makliker sou wees om maar net tuis te bly nie—want daar is soveel wat in plek moet val. En diegene wat tuis bly, word net so vasgevang in die gejaag: Kersfunksies, familiebyeenkomste, maaltye wat beplan moet word—wie maak wat, vir hoeveel mense, koop ons geskenke, hoeveel moet ons spandeer? By wie kuier ons vanjaar? Wanneer word die kersboom opgetuig, en wie gaan die Jesus-verhaal hierdie jaar vertel?

Besig, besig, besig. Soveel besluite, soveel dinge om te onthou. En tog smag ons eintlik net na rus.

Dalk is dit juis hierdie jaar nodig om doelbewus tot rus te kom—nie net in jou liggaam nie, maar tot in jou siel. Die wêreld gaan nie vergaan as jy sommige take vir die nuwe jaar los nie. Sit dit neer op die “onafgehandelde-sake”-rak, en laat dit toe om vir ’n tyd net te rus. Ons het Goddelike rus nodig. Rus wat nie uit vakansieprogramme of perfekte feestye kom nie, maar rus wat uit God se teenwoordigheid vloei.

Mag hierdie feesseisoen vir jou heuglik en besonders wees. Jesus het immers na hierdie wêreld gekom sodat ons kan deel in Sy rus—’n rus wat ons heelmaak, stilmaak en herstel.

GEBED
“God, skenk my ’n rustige gees en ’n vredevolle hart.
Laat U kalmte my bekommernisse stilmaak,
en laat U krag my liggaam en gees hernu.
Help my om te laat gaan wat ek nie kan dra nie,
en die rus te ontvang wat U gee.
Amen.”