In hierdie week kyk ons na die klein dingetjies rondom ons. Spreuke 30:24 nooi ons om te kyk na die wêreld rondom ons en die dinge raak te sien wat klein is, maar wat buitengewone wysheid het.
‘n Geitjie kan jy met die hande vang, en tog is hy in koninklike paleise.
Kyk rondom jou na die weerlose, nietige geitjies. Ons sou maklik kan dink dat ’n geitjie onbelangrik is, maar dan maak die geitjie hulle tuiste op plekke wat die meeste nie belangrik genoeg is om in te kom nie. Waar die meeste mense toegang geweier word, daar word die geitjie in sy onsigbare onbelangrikheid verwelkom en daar kan die geitjie ’n tuiste maak.
Dikwels dink ons dit is net die belangrike mense of die groot dinge wat ’n verskil kan maak. Maar dalk is daar ’n ander tipe krag in die onsigbare, skynbaar onbelangrike manier van lewe. Dit is dikwels die dingetjies wat ons nie raaksien nie, wat die vermoë het om ’n groot verskil te maak.
Dalk moet minder probeer belangrik lyk deur groot huise of paleise te bou, of deur groot hoeveelheid aandag op onsself te vestig en eerder probeer onsigbaar word – deur lig te lewe en onsself te assosieer met die onbelangrikes, soos Jesus ons leer, eerder as met die belangrikes. Dalk is dit juis deur aandag te gee aan die dingetjies wat vir ander onsigbaar en onbelangrik is, waarin die wysheid van God lê?
Die geitjie nooi ons ook uit om weer te dink oor wat en wie ons as belangrik beskou. Elke klein dingetjie het waarde in die skepping. Dalk is dit wanneer ons leer om die klein dingetjies te beskerm en hul waarde raak te sien, dat die groot dinge ook beskerm sal word en nog meer waarde vir ons inhou.
Dink vandag:
Wat is die dinge wat vir jou onsigbaar en onbelangrik geword het? Watter onsigbare ding kan jy vandag doen, wat ’n verskil sal maak? Iets wat niemand sal oplet nie, maar wat tog betekenis het vir die skepping?
Dalk kan jy seker maak dat jou huis ook ’n tuiste is vir die geitjies en die bytjies, wat op hulle stil manier groot waarde in God se skepping het.
Genadige God, leer my om onsigbaar te wees. Om al hoe minder aandag na myself te rig, sodat ander vir U en u skepping kan sien. Amen.