Ons is in die tweede week van Advent, die week van vrede. In hierdie week wat voorlê, dink ons na oor vrede.
En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
Wat steel jou vrede? Daar is ’n klomp dinge waarmee ons elke dag gekonfronteer word, wat dreig om ons vrede te steel en ons probeer oortuig om op maniere op te tree wat die onvrede vêrder in die wêreld versprei. Ons dink dikwels die vrede wat ons beleef of nie beleef nie, is buite ons beheer, maar Paulus maak dit hier duidelik dat vrede by ons eie harte begin. Spreuke 4:23 sê “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Paulus sê dat die vrede van God oor ons harte en gedagtes wag hou in Christus Jesus. Ek hou daarvan om te dink dat hierdie wag nie net ons harte beskerm teen die buitewêreld en alles wat dreig om ons vrede te steel nie, maar ook die buitewêreld beskerm teen die begeertes wat soms in ons hart leef om onvrede in die wêreld te bring.
Wat beteken hierdie woorde vir jou? Wat beteken dit dat die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, oor jou gedagtes en jou hart die wag hou in Christus Jesus?
Here, mag U vrede oor ons harte heers, sodat die onvrede van die wêreld nie in ons harte kom leef nie en dat die onvrede in ons harte, nie in die wêreld versprei nie. Mag U vrede, wat oor ons harte en gedagtes waghou, elke begeerte en elke gedagte transformeer om in liefde te leef en vrede te bring.
Amen