Vandag is Donderdag 13 Junie en ek verwelkom jou by hierdie week se reis waar ons saam reflekteer oor wat dit beteken om vanuit Pinkstertyd te leef. Ons is nou al drie weke na die Pinksterfees geleentheid, maar tog leef ons vanuit daardie krag elke dag om ook op praktiese maniere hande en voete te wees binne die nuwe kerklike seisoen wat ons noem koninkrykstyd. Die uitnodiging aan ons bly dus nogsteeds om vanuit die krag van die Gees te leef.
Martin Luther het eenmaal gesê: “Geloof is ‘n lewende, waaghalsige vertroue in God se genade, so oortuigend dat mense hul lewe duisend keer daarvoor sal prysgee . . . en dit is die werk van die Heilige Gees”. Net soos ons nie met ons blote oog sonhitte kan sien nie, so kan ons ook nie die onsigbare krag van die Heilige Gees sien nie; maar, bring daardie krag oor die vergrootglas van “lewende, waaghalsige vertroue”, dán kry jy die geestelike brandpunt waar dinge gebeur. Dan kry jy geloof-in-aksie!
Wat moet ons as gelowiges wat om dieselfde sentrale “verwarmer” leef, naamlik die Bybel se roeping, in ‘n wêreld vol pyn en ellende verteenwoordig? Ek dink weer aan Martin Luther se aanhaling oor geloof: “Geloof is ‘n lewende, waaghalsige vertroue in God se genade, so oortuigend dat mense hul lewe duisend keer daarvoor sal prysgee . . . en dit is die werk van die Heilige Gees”.
Die dissipels word ons voorlopers as apostels/gestuurdes in die wêreld in. Hulle harte “kom tot kookpunt” vir God. As God ’n mens aanraak verander jy. Efesiërs 3:16-17: “Dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is”.
As jy ooit wonder, sê Luther, dit is wat dit beteken dat die Heilige Gees uitgestort is.
Daar is geen verskil tussen ons en die dissipels nie. Hulle was ook net mense, maar hulle het lewende en waaghalsige mense vir God geword. Mag ons ook.
GEBED: Here, maak my ‘n lewende en waaghalsige getuie. Amen