Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.
Binne-in my menswees skuil daar iemand wat konstant sy eie begeertes wil bevredig.
Ferdinand Deist skryf oor hierdie tema die volgende: “Begeerte is eintlik net die dun lagie verf wat die gesindheid wat in ons hart werklik is, toe maak”. Begeerte gaan in die eerste plek oor die gesindheid van ons harte, om iets te wil hê, wat aan iemand anders behoort. En in die tweede plek as ’n mens dan planne maak om dit in die hande te kry. Wat God aan iemand gee, behoort aan hulle en mag nie begeer, of gevat word nie. M.a.w. ons moet gereeld daaraan herinner word om vergenoegd te wees met wat ons het. Want begeerte is die moeder van alle sonde.
Daar is baie voorbeelde in die Bybel van mense wat ook sonde gedoen het a.g.v. begeerte. Isebel en Josef, Kain en Abel, Jakob en Esau wat in sy begeerte na lensiesop sy eersgeboortereg verkoop. Dawid wat Batseba begeer, met haar owerspel pleeg en Uria vermoor. Nog so ‘n verhaal wat ons in 1 Konings 21 lees is die verhaal van Nabot se wingerd. Dit kan duidelik gesien word in die lewe van Agab wat Nabot se wingerd begeer en toelaat dat Isebel hom laat vermoor.
In sekere sin word ’n mens se hele lewe deur jou drange, begeertes en luste, beheer. Byvoorbeeld die begeerte na kos, klere, besittings, vriende en aanvaarding. Om iets te begeer is op sigself nie verkeerd nie, omdat die mens ook die goeie kan begeer. Dis normaal om ‘n begeerte na kos, klere en skuiling te hê. Dis tog basiese menslike behoeftes.
Hoe kom ek los van die begeertes? Gelowiges wat deur ’n moeilike tyd gaan, beleef dikwels die gestrooptheid van die begeertes. Dit is asof die vuur van die beproewing ons soos goud suiwer. Van watter sondige begeertes moet jy gestroop word? Wat is daardie drange wat jou gereeld laat struikel? Raak vandag bewus van daardie dinge wat jy begeer.
Here, ek belei vandag voor U al my sondige begeertes. Stroop my asb van hierdie onnodige begeertes wat nie noodwendig in my lewe tot seen sal wees nie. Amen.