Dagstuk | Donderdag 15 Januarie 2026

Dagstuk | Woensdag 14 Januarie 2026
Dagstuk | Vrydag 16 Januarie 2026

TEKS

Psalm 27:6
“Ek sal in sy woonplek onder trompetgeklank my offers bring;
ek sal ’n lied sing,
ek sal sing tot die eer van die Here,
terwyl ek neerkyk op die vyande rondom my.”

TEMA

Die krag van aanbidding


BOODSKAP

Die Amerikaanse predikant Tim Keller beskryf aanbidding só:

“To worship is the act of ascribing ultimate value to someone or something.”

Die oorsprong van die Engelse woord worship lê in worth-ship — dit gaan oor wat iemand werd is. Rick Warren sluit hierby aan in sy boek Doelgerigte Kerk wanneer hy sê:
Aanbidding is die uitdrukking van ons liefde vir God — vir wie Hy is, wat Hy gesê het en wat Hy doen. God, nie die mens nie, is die fokus van aanbidding.

Aanbidding is dus nie iets wat net op sekere tye en plekke gebeur nie. Dit het met ons hele lewe te doen — met ons daaglikse doen en late. Aanbidding is nie net vir Sondae bedoel nie, maar vir elke dag. Dit is nie net ’n aktiwiteit nie, maar ’n lewenswyse: om voortdurend op God gerig te wees.

Die hoogste vorm van aanbidding is nie net wat ons sing nie, maar hoe ons leef. Wanneer ons lewens getuig van liefde, gehoorsaamheid, nederigheid en oorgawe, word ons hele bestaan ’n loflied tot eer van God.

Dit is die diepste vorm van oorgawe — en terselfdertyd die hoogste vorm van ons menswees.

Mag dit jou fokus wees in 2026: om met jou hele wese, en in alles wat jy doen, God te aanbid.


GEBED

Hemelse Vader,
ek kom na U met ’n dankbare en nederige hart.
U is heilig, magtig en vol liefde.
Daar is niemand soos U op die hele aarde nie.

Dankie vir die lewe wat U vir my gegee het,
vir u barmhartigheid wat elke dag nuut is,
en vir u getrouheid wat nooit faal nie.

U is my Skepper, my Beskermer en my Gids.
Ek loof U vir u wysheid en u goedheid.
Ek eer U vir u geduld en u genade.

Alles wat ek is en alles wat ek het, kom van U af.
Here, help my om op ’n manier te leef wat U behaag.
Leer my om lief te hê wat U liefhet en om in u waarheid te wandel.

Mag my gedagtes, my woorde en my dade U verheerlik.
U alleen is waardig van alle lof en eer.
Ek aanbid U met my hele hart.

Amen.